Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Al wat toe oorbly, was die bont ballonne

joel s.nw. 'n Vrolike, luidrugtige geraas maak. Vrolik wees, feesvier — gewoonlik slegs van ’n [groot] groep of skare gesê – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Dit is ’n Sondagoggend en ene Niels is besig om veelkleurige ballonne op te blaas. Ons bevind ons in ’n klein en armsalige eetplek in ’n agterstraat aan die rand van Kaapstad se stadskom.

Op die vloer is daar ’n paar uitgetrapte matte en gekraakte teëls. Die vensterbanke is vol verlepte plante.

’n Mens kyk maar verby die verval, want die kos is goedkoop.

Dit is die tipe plek waar kerkmuise nog net-net kan knabbel. Buite waai ’n bergwind. Deure klap. Motoralarms loei onophoudelik. Haweloses vroetel-vroetel vir kos in vullisdromme.

Dit is sy verjaardag, vertel Niels baldadig. Hy is 40. Daarom blaas hy 40 ballonne op en het hy 14 mense uitgenooi vir lawwigheid en vermaak. Die getal vier is duidelik ’n grondtema.

“Nog nooit nie!” sê ons kamma-kamma oor sy ouderdom, al hang die plooie soos lelle van sy gesig af.

Hy dra goedkoop oranje grimering wat hom soos Donald Trump laat lyk.

Die gesig lyk lam, bewegingloos, maar die hoop beskaam nie.

Hy forseer iets met sy lippe wat ’n glimlag kan wees of dalk ’n stil kreet.

Rorschachtoets, beef or chicken sir, is die glas halfvol of halfleeg, wie weet?

“Nee kyk,” sê ons, “die lewe begin nou eers.” Hierdie cliché is pateties.

Hy lyk benoud, want ons almal weet dit is ’n rituele gelieg.

Hy blaas nog ’n ballon op. Dit ontplof. Buite skrik ’n peloton vaalgrys duiwe en vlieg in gelid op.

Hy kom nou net terug uit Saoedi-Arabië, vertel hy. Daar is glo geen bedelaars of misdaad nie, want hande en koppe word tjoef-tjaf afgekap. Bene ook. Hy kyk met minagting na ’n skeefgetrekte boemelaar buite.

In die agtergrond word peuselhappies deur die eienaar met ’n kostema uit die 1970’s voorberei. Hy lag graag kliphard vir sy eie grappe.

Geel soetmelkkaas word in klein vierkantige blokkies gekap en weense worsies word in stukkies gesny. Dan word die kaas op ’n tandestokkie gedruk, met ’n groen uitjie, ’n stukkie wors, en dan ’n geel uitjie.

Dit lyk asof hy ’n leërskare verwag, want ’n oormaat hiervan word voorberei en op wit papierborde uitgestal. Daar is skinkborde vol miniatuur-agurkies, ook genoeg vir ’n massa verhongerdes. Verder is daar verskillende kraakbeskuitjies met smere van alle geure en kleure, asook bottels soet vonkelwyn. O, babelas, laat my staan!

Demis Roussos se “This Time It Isn’t Au-Revoir” klink op. Die plek skud sy vere reg en herinner aan ’n windmakerige pou wat pronk en praal, al is die stertvere ietwat beteuterd.

Hier gaan groot makietie gehou word. Ons vertrek en wens hom ’n heerlike verjaardagpartytjie toe.

Die volgende oggend vertel die eienaar net drie mense het opgedaag. Almal is vroeg huis toe. Die oorskietkos, waarvan daar baie was, is aan die armes oorhandig. Niels is alleen met ’n bottel vonkelwyn daar weg.

Al wat oorgebly het, was die bont ballonne.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Joel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.