Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: As die kikvorse kon stem vir mense
Herman Lategan
Herman Lategan

janblom s.nw. donderpadda. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die donderpadda blaas homself op. Later is hy so opgeswel, sy pote hang in die lug.

Hy ruik reën. Die wolke hang donkerpers en dik oor die land.

'n Onaardse geluid kraak uit sy keel. Hy brul. Die jaar kom tot 'n einde.

Dit is weer tyd om die Padda-Mense van die Jaar aan te wys. Daar kan net twee wees.

Hy roep die ander nader en hoor hulle van ver: Sommige fluit, ander maak piepgeluide, grom en snork. Daar is ook blikslanertjies. Binne oomblikke is dit 'n koor, 'n kakofonie van geluide.

Die grootblaarvoupadda kondig die amptelike opening van die gala-aand aan met sy vinnige sarsie harde slagskote wat hy afvuur.

Stilte. Donderpadda begin: “Julle kan gerus met my verskil, maar een van die wenners hierdie jaar is Karlien van Jaarsveld.”

Hulle klap hard met hul voorpote. Swemvliese en kleefkussinkies weergalm na bowe.

Stryd van die reuse
Stryd van die reuse

“Ja, maar laat ons ook nie vergeet nie van prof. dr. Jonathan Jansen (Twitter-stryder), Helen Zille (Hasta la vista, baby, I’m back), pres. Cyril Ramaphosa (altyd geskok) en adv. Busisiwe Mkhwebane (Judas Iskariot as fopdosser),” kwaak hulle.

“Ons sal by een van hulle uitkom,” sê donderpadda.

“Kom ons kyk eers wat die sangeres en amateursjef Karlien van Jaarsveld op haar Facebook-blad skryf: ‘Ek journey altyd met God rondom die name van my kinders, en elke keer was dit nogal 'n stryd vir my om die naam wat Hy gekies het te ‘aanvaar’.’”

Nie een van die kikvorse kwaak nie, hulle gaap, want as hulle kwaak gaan daar groot kwak wees.

“Dan vra sy die uiters eksistensiële, liturgiese en ja, 'n gevorderde hermeneutiese vraag, nie oor eiers nie, maar oor ribbebene: ‘Wat stel hierdie ribbebeen waaruit die vrou gebou is voor? En was dit nie beter toe sy net nog versteek was in die sy van die man, en sy nie gehelp lei het tot die sondeval nie?’”

“My vraag aan Karlien is,” sê donderpadda: “As jy dan so ’n groot gelowige is, is skei dan nie ook 'n sonde nie? 1 Korin­thiërs 7:39 sê tog duidelik: ‘ ’n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met ’n gelowige is.’

“In Engels noem 'n mens dit cherry-picking. Jy vat uit die Bybel wat jou pas. Daarom (en om verskeie ander redes, soos om die vrou deels die skuld te gee vir die sondeval) is jy een van die Padda-Mense van die Jaar.

“Dan, die edelagbare prof. dr. Jonathan Jansen. Jou gedrag in Stellenbosch herinner aan The Mimic Men, deur V.S. Naipaul. Losweg handel dié boek oor hoe diegene wat gekoloniseer is, later soos die koloniseerders optree.

“Let me say this to you in your chosen lingua franca: Your behaviour that day was not only boorish, but also trite virtue signalling. It was a throwback to chauvinistic colonialism. How chilling.

“You are the winner for 2019. Mazel tof.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.