SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Dan liewer ‘cinq à sept’ as ‘coup de vieux’ . . .

frankofiel. s.nw. Persoon met ’n groot bewondering of voorliefde vir Frank­ryk en die Franse. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Daar is ’n hele subkultuur onder sekere Afrikaners wat dol is oor alles wat Frans is. Hetsy dit kos, dekor, Parys of die platteland is, hulle hyg na Frankryk.

Ongelukkig was hierdie rubriekskrywer nog nooit daar nie, maar daar is sekere geestige Franse sêgoed wat bekoor. Al gehoor van cinq à sept?

Dit is ’n guitige gedoente. Die letterlike betekenis is 17:00 tot 19:00. Wesenlik is dit ’n tipe metonimia en verwys dit na ’n afspraak wat jy gereeld met jou beminde tussen daardie ure het.

Dan flikflooi en vry jy met jou don juan of gogga. Hierdie tipe opsitkers-affêre vind plaas ná werk en net voordat aandete by die huis bedien word.

Die Franse is mos oopkop oor hierdie tipe liaisons. Die man of vrou met wie jy getroud is, is bewus hiervan. Dit is dus nie ’n skelmpie nie en jy knyp ook nie die kat in die donker nie.

Die Kanadese is ’n titsel vromer, want in Quebec het dit weer ’n minder erotiese betekenis. In daardie geweste verwys dit na ’n sosiale aktiwiteit soos die bekendstelling van ’n boek of die opening van ’n kunsuitstalling.

Hors d’oeuvres of peuselhappies word bedien, met drankies en mooipraatjies wat in die gewone faux fluisterstemme hiermee gepaardgaan.

Die Engelse het weer ’n skemerkelkuur (happy hour), waar as dinge handuit ruk, dit dalk ook in ’n rinkinkende rumpy pumpy of Franse cinq à sept kan ontaard.

’n Ander kwinkslag is coup de vieux. Dit is nou as jy skielik oud voel en word. Jy dink nog alles is dooddollies met jou voorkoms en op ’n dag tref dit jou.

Jy stap terloops verby ’n spieël en die lagplooie lyk nie meer so snaaks nie, hulle is gerimpelde groewe in jou vel. Die hare is grys en droog.

Jy beleef dan ’n coup de vieux. As jy wit is, het sommige mense nog rooi neuse en fyn aartjies op die vel van jare se gefuif en gekaperjol. Ja, want ná lag kom huil.

Die joernalis Simon Kuper skryf in die Financial Times ’n 50-jarige vriend het onlangs geskok van ’n skoolreünie teruggekeer. Sy ou skoolmaats het so sleg verouder, hy het niemand herken nie.

Hy kon homself ook nie opkikker deur hom te flous dat hy beter ouer en beleë geword het nie – niemand daar het ook geweet wie hý is nie. Dit is hoekom plakkertjies met name op jou gesit word.

“Ons gaan dood,” het Kuper se vriend gekerm. “Ek het altyd gedink 50 is halfpad, maar nou weet ek: Ons is klaar!”

Hy haal aan uit ’n gedig van Jenny Joseph: “But now we must have clothes that keep us dry / And pay our rent and not swear in the street / And set a good example for the children. / We must have friends to dinner and read the papers.”

Ja-nee, dit is mos pure coup de vieux.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.