Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Dankie tog vir lushof van woorde in dié tyd

aanbouwoordeboek s.nw. woordeboek wat deurlopend aangevul word; woordeboek in bewerking. – Woordeboek van Afrikaans Vandag (WAV). Hoofredakteur: Jana Luther.

Herman Lategan
Herman Lategan

In hierdie tye van donkerte kan ons ons na woorde wend. Iemand wat groot agting by hierdie rubriekskrywer wek, is Jana Luther (en haar kollegas by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal).

Sy is 'n stil, beskeie vrou wat 'n groot bydrae oor die jare as woordeboekmaker in Afrikaans gelewer het. Luther het al aan verskeie woordeboeke gewerk. Ons is onder andere aan mense soos sy groot dank verskuldig vir Afrikaans se robuuste voortbestaan.

Sy en haar kollegas verskyn selde in glanstydskrifte of op TV. Inteendeel, baie min word ook enigsins oor hulle geskryf. Hulle woeker stil-stil (net soos subredakteurs) as figurante in die agtergrond, tog is hul kulturele bydrae enorm.

Op LitNet skryf sy: “In die woordeboekbedryf, nie net in Suid-Afrika nie maar oral in die wêreld, is personeelafleggings en sluitings aan die orde.

“Nóg uit die verkope van papieruitgawes, nóg uit aanlyn subskripsies, nóg uit lisensiëring, nóg uit advertensies sal daar weer genoeg inkomste genereer kan word om voortgaande werk aan Afrikaans se standaardwoordeboeke kommersieel te regverdig.

“Om op die WAT, Afrikaans se grootste, oudste, niekommersiële woordeboek, in te teken, kos R200 per jaar. Dis omtrent 55 sent per dag.”

Hier kom die skok: “Maar ook vir die werk wat hiér gedoen word – vir insae daarin – hou Afrikaansgebruikers hul beursies toe. Watwou taaltrots en taalnuuskierigheid.”

“Abdol speel mens met ’n klip of ander voorwerp soos ’n lekke ghoen as jy het, op ’n rympie met wysie, nogal.”

'n Oomblik van refleksie: Asseblief, teken in op die WAT, dit verskaf oneindige plesier en noodsaaklike kennis om op die aanlyn woordeboek rond te snuffel. Gaan loer ook na die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se webtuiste.

Hoekom Luther vandag in die kollig staan is oor haar vars aanlyn juweel: Die Woordeboek van Afrikaans Vandag (afrikaans-vandag.co.za), wat fokus op hedendaagse taalgebruik – nuwe woorde, nuwe betekenisse, nuwe uitdrukkings wat nié in ander Afrikaanse woordeboeke neerslag vind nie, asook oues wat in die slag gebly het.

Dié woordeboek word deurentyd aangevul en Rapport se lesers kan ook help om aandag op woorde en uitdrukkings te vestig wat nog nie opgeneem is in ander woordeboeke nie. Gaan na “Help ons”.

Luther noem dit haar eie klein tuin wat sy bewerk. Watter lushof is dit nie.

Jy druk net op die “Blaai deur”-knoppie en voilà, 'n wêreld vol woorde gaan voor jou oop. Sy gebruik ook beeld en klank om betekenis te verhelder en gebruikstoeligting te gee.

Gaan luister hoe Anastasia de Vries die woord Abdol (kinderspel) met 'n kort sangsnit belig. “Abdol speel 'n mens met ’n klip of ander voorwerp soos ’n lekke ghoen as jy het, op ’n rympie met wysie, nogal.” Sy sing dan ook: “Abdol maak potjie skoon, Abdol maak potjie skoon.”

Daar is selfs 'n video van “My f*k, Marelize” en ook een wat die woord hologram met 'n videosnit illustreer.

Daar is te veel neologismes en ouer woorde om hier te noem, maar een ding is seker – só 'n woordeboek is weergaloos in Afrikaans. Jana Luther, soos die Engelse sou sê: “Take a bow.”

Meer oor:  Jana Luther
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.