Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Dié buurt is mos SA se eie ‘Twin Peaks’!

skokiaan s.nw. Alkoholiese drank bestaande uit o.m. tuisgemaakte bier, brandspiritus en ’n koekie suurdeeg. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die media moet Facebook spaarsamig gebruik om stories uit die eter te oes, anders is dit bloot lamsakkigheid. Tog verskyn daar plek-plek plasings wat so gek is dit laat jou voel jy sit in ’n burleskteater.

Wat hierdie rubriekskrywer fassineer is wat op die gemeenskapsblaaie geskryf word. Daar is sommige mense wat tydens die verbod op drankverkope oënskynlik hul eie lawaaiwater maak.

Of hulle dan lekkerlyf is van al die skokiaan as hulle agter hul toetsbord inskuif is nie ter sake nie, want dit is vermaaklik.

Kom ons begin by die groep “Pinelands 531”.

Hierdie voorstad is bekend om sy parke, boomryke stegies, kerke en grasdakhuise met grasperke en mooi tuine. Daar heers ’n ontspanne, voorstedelike gemoedelikheid. Moenie geflous word nie.

Een man vra vir inwoners wat al lank daar woon of hulle al die spookgestaltes by die voetpad langs die kanaal gesien het. Ja-nee, antwoord ’n paar, Pinelands is glo naby ’n ou begraafplaas gebou.

Die kanaal in Pinelands.

Hy vertel verder die skim het voor hom geloop, is sowat 5 m lank en met baie lang arms. Opeens het die gedaante een van die bome uitgeklim. Die blare van al die bome het begin ritsel. Hy is vinnig huis toe.

’n Ander man beweer hy het ’n ou heks in sy woonstel gesien; sy het lang, skerp naels en ’n rug wat 90° gebuig is.

Een vent skryf hy het op ’n aand na ’n huispartytjie gegaan. Teen 23:00 het hy en vriende oor ’n sportveld terug na hul motor geloop. Toe hulle omkyk, hardloop iets in hul rigting met arms en bene wat tol en rol. Hulle het weggehardloop, maar die ding het hulle begin inhaal.

Die dwaalgees het verdwyn, maar ’n ou, kaalkop man met ’n lang bokbaard en ’n onderstebo kruis op sy T-hemp het verby hulle geloop. Hy het saggies gelag.

’n Vrou beweer sy onthou hoe sy as skoolkind soms in hul huis parfuum en kerse kon ruik. Haar kat was bang, veral vir die een hoek in haar kamer. Die hond het ook gestaan, na iets gestaar en aan’t blaf gegaan. Ook is daar die vrou wat die lede meedeel dat haar ma as kind se hare deur ’n spook getrek is.

Pinelands – voorstad met jou rustige atmosfeer – wie sou kon dink jy is ons land se eie Twin Peaks?

Laat ons vir ’n wyle (benoud) dié buurt die rug keer en ons loer in by Observatory.

Op die blad “Observatory, Western Cape”, vra ’n vrou alle slangeienaars om asseblief te luister.

Het enigiemand perdalks ’n bevrore, dooie rot wat haar dogter die volgende dag kan fotografeer, vra sy. “Dit sal daarna veilig terugbesorg word.”

“Baie Stephen King,” skryf ek toe.

“Ja, Obsemetary,” antwoord iemand.

Soos David Bowie gesing het: “Ground Control to Major Tom / Commencing countdown, engines on.”

Die ruimte roep.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.