Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Die dae toe pieringklou ’n selebriteit in Kaap was

pieringklou s.nw. Perd: Jakob moet help met die versorging van die pieringkloue. Hy sal hulle so af en toe ’n plukseltjie gee. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Ry jy deur Kampsbaai, kan jy jou maklik verbeel daar is ’n tikkie Miami in die atmosfeer. Modelle sonder een plooi en selebriteite skuilend agter sonbrille sit oor pers en groen skemerkelkies en koer.

Jy kan skaars op die sypaadjies beweeg, dit is vol tafels met mense wat na jou met afkeer gluur as jou hemp by Mr Price gekoop is.

As die son skyn, staan die verkeer stil, lywe soos uit Baywatch paradeer op die wit sand of onder wiegende palmbome. Helikopters vol toeriste hang oor die see, seiljagte so groot soos dubbelverdiepinghuise dobber tussen die blou golwe.

Maar eintlik was Kampsbaai ’n paar dekades terug maar lekker kommin.

In die aande flikker en vlam die liggies van hordes eetplekke. Die reuke van duur ambrosia swem in die lug.

Dit is soos een groot Peter Stuyvesant-advertensie, soos hulle in die ou dae in die bioskope gewys het.

Maar eintlik was Kampsbaai ’n paar dekades terug maar lekker kommin.

Hierdie airs and graces wat die plek nou het, stink na parvenu.

Langs die kusweg was daar ’n motorhawe, apteek, kafee, sokkerklub, rolprentteater, hotel en pizzaplek met die naam Rio.

’n Ligte soutkombers het oor die buurt gelê, die vensters was meestal dof. Alles wat blink, het geroes.

Op die strand het mense met vormlose klere, deurmekaar hare en windverwaaide gesigte met hul brakke loop en grom.

Dit was die wyk vir ou lesbiërs, geskeides, disfunksionele families, gehawende ou hippies en ’n paar rykes wat ’n lae profiel gehandhaaf het.

By die kafee kon jy toffie-appels koop. Die apteek het aan ou mnr. Isaacs behoort wat tot in sy middel-negentigs nog elke dag kom werk het. Op ’n dag het ’n fratsbrander regoor die straat tot in sy apteek gespoel. Hy het aanhou arbei.

By die pizzeria het die eienaars Penny en Gloria tussendeur ’n daaglikse bakleiery en weer opmaak goeie en goedkoop kos bedien. Jy kon met Pep Stores-plakkies daar gaan eet.

As jy nog verder teruggaan, na die 1960’s, is daar vandag nog baie mense wat die perd Philly en sy vriendin, Nellie, ’n donkie, onthou.

Dié twee belhamels het mak op die strand en deur die strate geloop en van huis tot huis appels en wat ook al gaan bedel.

Philly het buite jou voordeur staan en runnik, dan moes jy ietsie te ete na hulle neem en eers ’n bietjie gesels.

In 1958 het dié pieringklou die eerste en enigste Vryheid van Kampsbaai oftewel ereburgerskap ontvang. Hy het as gasheer by partytjies opgetree. Toe hy in 1960 erge koliek ontwikkel, het die plaaslike pers amper daagliks oor sy toestand geskryf. Volgens ou koerantuitknipsels was sy eie­naar mnr. Roy de Beer. Sy dood in die laat 1960’s op ’n goeie ouderdom is groot in die koerante aangekondig.

Nou gaan vertel dié staaltjies vir een van die swierbolle daar op die sypaadjies. Hulle sal vir jou lag.

Meer oor:  Kampsbaai  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.