Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Die dag toe ek durf om dié vrou iets te vra

Jansalie s.nw. Iemand sonder fut en energie; lamlendige, sufferige persoon; lamsak – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die spoorlyn tussen Kaapstad en Simonstad was vele jare lank ’n lewensvatbare roete deur van die Kaap se aanskoulikste en boomrykste voorstede, soos Rondebosch en Nuweland.

Vanaf Valsbaai het jy die see sien sprankel, die Kaap in al sy glorie sien pronk. Wit strande, vissersbote dobberend, seereuke, branderplankryers wat oor die blou dam seil, die waens se geklik-klak.

As tiener het ek met my visstok hierdie einste trein gehaal om vroegdag by Kalkbaai te gaan lyn natmaak. Nou die dag besluit ek om weer dié roete aan te pak.

Dit ná 'n fiasko 'n paar jaar terug. Te danke aan Metrorail se inkorrekte inligting het ek in die verkeerde trein beland.

Hierdie keer was die vrou by die inligtingstoonbank weg. Later, toe sy wel kom, het sy my neerhalend aangegluur asof ek 'n skorriemorrie is.

Toe ek vra of die trein nog op die bepaalde tyd vertrek het sy gesug en hoogs geïrriteerd na 'n bord gewys. Sy het haar arms gevou en agteroor geleun soos 'n jansalie.

By die lokomotief het ek die drywer gesien en gevra of dit die regte trein is. “Ja,” het hy geantwoord. Die perron was vuil.

Binne in die wa was talle sitplekke uitmekaargeruk, en net ’n bietjie stoffeerwerk sigbaar. Sommige treine is ongeveer 50 jaar oud. Dit wys. Die vensters was so vuil, jy moes dit ooptrek om te kon sien. Binne was daar aanplakbiljette wat jou belowe het 'n dokter kan jou verlore minnaar terugbring, ook jou familiekierie verleng. Daar was ongeveer 30 regoor die binnekant geplak.

Toe ons vertrek, tref die agteruitgang my. Waar ons ry, papiere en rommel oral langs die spoorlyn. Draadheinings gebreek. Swart merke teen mure waar vure gebrand het. Hele kolonies vol verslae arm mense onder eiegemaakte plastiektente. Die reën het geval, van hulle het bibberend staan en hande vryf vir 'n bietjie hitte.

Die onsigbare ontheemdes wat deur die Zuma-era se krake geval het. Die trein staan soms 'n kwartier lank tussen stasies. Sommige mense klim uit en stap sommer na die volgende stasie, waar 'n taxi gehaal kan word.

In Vishoek stop dit, laat. Die spoor na Simonstad waar ons vloot is, is deur sandduine toegewaai. Jy moet op eie koste daar uitkom.

Teen die agtermiddag op pad terug is die trein 'n uur laat. ’n Skare mense het reeds saamgedrom om terug te gaan Kaap toe. Gou was elke wa stampvol met geen beweegruimte nie. Sakkerollers se mekka.

’n Mens se veiligheid is ook nie gewaarborg nie. 'n Treindrywer, Piet Botha, is al op 'n ander roete doodgesteek. By Bonteheuwel het 'n trein ontspoor.

Mans met vuurwapens en messe spring soms by die waens in. Dan moet jy uithaal en gee.

Onlangs het Leigh Jansen by die dood omgedraai toe iemand petrolbomme in haar wa gegooi het.

Toe ons trein die Kaapse stasie binnekom, was ieder een bly ons het veilig ge­arriveer. Vir eers.

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.