Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Die dag toe Templeton vir oulaas ‘bye’ sê

oupa-se-pyp s.nw. Klimplant met ’n liggroen kelk in die vorm van ’n kromsteelpyp, glansende donkergroen, hartvormige blare en ’n blom. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Templeton Stembile Booi (80) het 30 jaar terug aan die voordeurklokkie gelui. Hy het gevra of hier by die woonstelblok ’n werk in die tuin is.

Dit is ’n klein gebou in die art deco-styl. Nie een van die inwoners het groeihande nie. Hy het gekom asof hy gestuur is.

Vir ’n wit man om oor ’n swart man soos Templeton te skryf verg fyn voetwerk, dit kan maklik ontaard in ’n sentimentele, neerhalende romantisering van iemand wat onder ’n wreedaardige stelsel swaar gekry het.

Dit is nie die doel nie. Templeton, soos hy bekend wou staan, was vir 30 jaar deel van almal in die woonstelgebou se lewens. Vinnig het ons agtergekom hy was eintlik meer as net ’n tuinier, hy was ’n puik tuinontwerper.

Hy het oor skoolvakansies sy seuntjies Unathi en Sipho saamgebring om in die tuin te speel. Ek het gereeld die klein woelwaters agter op my poegie gelaai. Dan het ons drie langs die see gaan ry. Vandag is hulle groot mans.

Templeton het Donderdae vroeg gekom. Daar was ’n ritueel.

Die dag toe Templeton Stembile Booi kom groet het ná 30 jaar. By hom is Graham Sonnenberg, wat hom in diens geneem het.

In die motorhuis het hy rustig gesit en swart koffie gedrink en toebroodjies geëet. Daarna het hy sy blou oorpak aangetrek. Dié van ons wat van die huis af gewerk het, het ook middagete gemaak.

Die katte was mal oor hom en het gereeld rondom hom gehardloop en in die lug gespring. Daar was vyf katte oor die jare, almal nou in dié einste tuin begrawe. Hulle het hom oopmond laat lag.

Eendag vertel hy my in Khayelitsha waar hy woon hulle 'n kat en 'n hond het. Die troeteldiere se name is iKattie en die hond Tom Boy.

Hy het in 1970 Kaap toe getrek met sy vrou, Fundiswa. Hulle het uit Tsolo in die Oos-Kaap gekom op soek na nuwe geleenthede.

Sy liefde vir plante het hy as kind ontdek. Daar waar hulle gewoon het, het hy leer groente plant en tuinmaak.

Die woonstelblok se blombeddings het hy verander in ’n singende paradys waar voëls kom kwetter het. Seisoen ná seisoen het die tuin van kleur en geur verander. Hy was lief vir geel rose en oupa-se-pyp.

Eensklaps, asof soos 'n onverwagte donderbui, het ons besef die jare het verskiet. Wou hy nie aftree nie? Met pensioen. Nee, nie nou nie.

Toe kom die dag. Hy is moeg. Die tyd het aangebreek. Die pensioen en ekstra betalings is uitgewerk.

Op ’n Saterdagoggend lui die voordeurklokkie. Templeton het kom groet. In sy Sondag-pak. Hy het gesit. Ons het tee gedrink. Dit het gevoel soos ’n roudiens.

Toe hy opstaan, het ons almal mekaar drukkies gegee. Hy het by die motorhuis gaan staan, sy hoed gelig en gesê: “Goodbye garage, goodbye garden, goodbye you.”

En toe was dit asof ’n swerm voëls ’n donker wolk gevorm het en as erewag oor die tuin kom vlieg het.

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.