Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Die goue dae van ‘Dallas’ en Goue Akker

loerkoop ww. Na uitgestalde handelsware in winkelvensters kyk sonder dat enigiets gekoop word. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Toe die Goue Akker-winkelsentrum in Kaapstad se middestad in 1979 geopen het, was dit opwindende tye in dié stad. Om reklame vir dié sentrum en die TV-reeks Dallas te maak, nie dat laasgenoemde dit nodig gehad het nie, het hulle een van die sterre, Charlene Tilton, uitgenooi.

Charlene Tilton

Sy het die rol van Lucy Ewing, die stoute broerskind van JR Ewing vertolk. Dié karakter was 'n bitsige blonde kabouter, giftig, maar sexy.

Dit was 'n Vrydagmiddag ná skool en ek en 'n paar mede-belhamels het stad toe gehardloop om hierdie vrou in lewende lywe te kon sien.

Dallas was so gewild, die land het op Dinsdagaande gesluit. Alles was toe.

By die winkelsentrum aangekom, was daar reeds 'n enorme skare.

Sy het in 'n lang, slap, swart limousine gearriveer. Toe sy uitklim, het die menigte gegil. Sy het vir almal geglimlag. Eintlik het sy verstom gelyk. Bosse blomme is na haar toe gegooi.

Destyds was loerkoop (window shopping) 'n groot affêre. Dit het niks gekos nie.

Die blommeverkopers langs die OK Bazaars het seker die hardste geskree. Sy is na binne begelei met die malende hordes agter haar aan.

Daar het sy op 'n loopplank op en af geloop, dan geswaai, weer gewaai, haar kop agteroor gegooi sodat haar lang blonde hare teen haar boude gekielie het.

“Cape Town, I love you!” het sy in die mikrofoon geskree. Agter haar was die ou stasieklok, waar mense mekaar vir afsprake kon ontmoet. Voor selfone.

'n Vrou met klaarblyklik 'n senuwee-aandoening het flou geword en is met sneesdoekies deur Samaritane gelawe. Die mense kon hul oë nie glo nie, hier is Lucy Ewing reg voor hulle.

Net so vinnig soos sy gearriveer het, is sy daar weg. Ek vermoed dit was van skok.

Toe sy wegry sak daar 'n onheilspellende stilte oor die middestad toe, soos wanneer Eskom skielik die krag afskakel. Nie 'n geluid nie. Almal is stil-stil maar vort.

Die Goue Akker was ook bekend vir sy luukse boetieks. Destyds was loerkoop (window shopping) 'n groot affêre. Dit het niks gekos nie.

Op 'n Vrydagaand kon jy ure lank staar na duur horlosies, diamantringe, ingevoerde skoene, stom winkelvensterpoppe met vals wimpers, bot gesigte, geklee in pelsjasse.

Die agtergrondmusiek wat deur die hele sentrum geblêr het, was gewoonlik minnesang soos Julio Iglesias se “El amor” of Barry Manilow se meer ritmiese “Copacabana”.

Jy kon jou verbeel jy is 'n miljoenêr soos jy van venster tot venster beweeg het en jou oë sagkens oor elke item gestreel het.

Al hierdie gedagtes het na my teruggekom toe ek na die man wat van die begin af daar was, by Rodney’s Watch Repairs, gaan soek het. Hy was nog onlangs daar.

Sy winkeltjie was toe, binne was dit leeg. Toe ek die sentrum se bestuur bel om te vra wat van hom geword het, was die antwoord kil: “Ek is bevrees ek het nog nooit van hom gehoor nie.” Kliek.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Dallas  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.