Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Die slang sis, suis en seil by sy been af . . .

serpentarium s.nw. Reptielpark waarin veral slange aangehou word – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

’n Man het onlangs in Bangkok in sy gemakshuisie gaan sit toe ’n luislang hom op sy meneer pik. Hy het daarna glo 15 steke gekry.

Dit het my laat terugdink aan my eie ondervinding met hierdie satanskind. Eendag, so 15 jaar gelede, ontmoet ek ’n slungel van ’n man. Hy het as bestuurder by ’n modieuse eetplek in Langstraat, Kaapstad, gewerk.

Die man vertel hy woon in die Tuinesentrum. Daardie wolkekrabber wat soos ’n monolitiese betonvinger uit die aarde opslaan.

Gewoonlik is dit eenspaaiers wat daar woon. Alleenlopers wat Sondagmiddae as die wind suis, wens dat Maandag aanbreek sodat hulle weer mense kan sien.

“Maar is jy nie eensaam daar nie?” vra ek. Dat ’n netjiese jongman in so ’n atmosfeerlose sementtoring woon – daar waar die steriele gange soos ’n hospitaal s'n voel.

“Nee,” sê hy, “ek het my slang.”

Hy het ’n troetelslang wat hy daar aanhou.

Ek het geweet dis ’n artikel en hom gevra of ek die slang kan ontmoet.

Kort daarna gaan ek saam met hom tot op die 15de vloer, waar hy in ’n sit-slaapkamer woon.

By hom het hy ’n lewende muis wat hy onder by die troeteldierwinkel gekoop het. Die slang kry so elke paar dae ’n peuselhappie.

In die woonstel is daar ’n glastenk waarin die gedierte rustig opgekrul lê.

Ek sit en maak notas. Hy vertel die slang is vriendelik en slaap soms saam met hom in die katel.

As hy sy kop kielie, lig hy dit op. Die gesplete tongetjie flikker vinnig en glad in en uit sy bek. In ’n stadium lyk dit die slang geniet die koppie-krap so baie, hy glimlag.

Ek verbeel my die man lyk ook soos ’n reptiel en kry die ritteltits. Dit voel vir ’n wyle of ek in ’n serpentarium of pretpark se spooktrein vasgevang is.

“Voer tog net die muis vir die slang as ek uit is,” vra ek. “Ek wil nie die krete hoor soos dit verorber word nie.”

Die volgende dag laat weet die redakteur sy soek ’n foto by die artikel, die slang moet om die man se nek hang, sommer daar in die eetplek waar hy werk. Hy vervoer die troeteldier in ’n goiingsak na sy werkplek.

’n Fotograaf kom. Die foto’s word geneem. Hy is mooi aangetrek. Die slang geniet blykbaar die aandag, want hy sis, suis en seil by sy been af en dan weer om sy nek. Soos die tou van ’n galg.

’n Skare vorm buite die restaurant. Toe alles klaar is, gaan bêre hy die slang in die pakkamer. Kort daarna toe hy hom wil huis toe vat, ontdek hy die leë sak.

Die slang het ontsnap, by ’n gat in die vloer ingegly.

Min het die gaste by die Long Street Deli en die res van die straat geweet wat onder die oppervlak aangaan.

Die man met die verlore slang het daarna nooit weer met my gepraat nie.

Meer oor:  Serpentarium  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.