Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Die terapie van uitstal van smart en woede

restant s.nw. Bedrag, hoeveelheid of stuk wat oorbly nadat ? gedeelte daarvan gebruik is. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoof-
redakteur: W.F. Botha.

Wat bly oor van soene? was die titel van een van Hennie Aucamp se prosabundels. Dié titel sluit aan by Bertolt Brecht se wrang vraag: “Wonde laat letsels, maar wat bly oor van soene?”

As een persoon in ’n verhouding besluit om dit te beëindig, bly soms bittermin oor, behalwe smart vir die verworpe een, en dalk memento’s. Nou kan diegene wat vertroud is met dié hartseerwals vir ’n katarsis by die Museum van Gebroke Verhoudings (Muzej prekinutih veza) (www.brokenships.com) gaan aanklop.

Dié museum in Zagreb, Kroasië, eerbiedig gebroke verhoudings. Hulle stal die objekte wat gewese minnaars agterlaat uit, elk met ’n kort beskrywing. Dit het wêreldwyd aanklank by soveel mense se droefheid (en woede) gevind, dat daar nou ook een in Los Angeles is.

En waar anders as in Hollywood Boulevard, die boulevard of broken dreams; Tinseltown met sy klatergoud waar drome en liefde gereeld hul skyn verloor. Dié uitstallings het al na 21 lande en 33 stede getoer.

Die een objek is ’n byl (die einste blou een op die foto regs). ’n Vrou uit Berlyn is deur haar geliefde vir ’n ander vrou verlaat. Sy het haar ekshartedief se meubels met die byl in stukke opgekap en al die stukkies netjies in rye en op hopies geplaas.

‘‘Wanneer daar nie meer bene oor was om af te haal nie, sou ons saam intrek, ’n nuwe lewe begin?.?.?. En so het die rusper nie ’n totale invalide geword nie.”

“Twee weke later het sy haar gemors kom haal en was sy uit my lewe uit,” skryf sy. “Die byl was terapeuties.”

Daar is ’n goue geluksarmband (vals). Die onderskrif is dié van ’n verwerpte dogter aan haar pa: “ ’n Herdenking van die beste en slegste vakansie van my lewe. Disney World 1977.

“Jy’t by die ingang gestaan en belowe jy sal ons weer eendag terugbring. Ma het gesê jy moenie beloftes maak wat jy nie sal kan nakom nie. Ek het ophou probeer om sin te maak uit die verwerping van jou twee dogtertjies.”

Van die ander objekte is sexy stiletto’s, ’n frisbee en ’n vergrootglas. Uit Leiden in Nederland is ’n sagte Plush Snoopy-pop.

Die persoon skryf: “Hy het Snoopy vir my gegee op my 17de verjaardag. Ons het ses maande vroeër verlief geraak, op 5 Oktober 1981. 30 jaar later het ons drie seuns, ’n huis, ensovoorts. Hy het verlief geraak op ’n ander vrou, en haar gekies.

“Hy het my hart gebreek. Hy het my vertel hy het my nie eintlik liefgehad oor daardie 30 jaar nie.

“Ek verstaan dit eenvoudig nie.”

Uit Sarajewo, Bosnië-Herzegowina, geskryf oor ’n twee jaar lange verhouding: “Ek het hierdie ware, groot liefde gehad, maar langafstand. Dit het 20 maande geduur. Natuurlik het ons gedroom van ’n lewe saam, toe koop ek ’n speelding, ’n Timunaki-rusper. Elke keer wanneer ons mekaar gesien het, het ons ’n been afgeskeur. Wanneer daar nie meer bene oor was om af te haal nie, sou ons saam intrek, ’n nuwe lewe begin. Maar soos met vele groot liefdesverhoudings, het dié verhouding gesneuwel.

“En so het die rusper nie ’n totale invalide geword nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.