Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Dis húlle wat so kan kloek oor die taal
Herman Lategan

draghoender s.nw. Niksbeduidende persoon. Opgeteken in Swellendam en Namakwaland.– Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Soms is daar ’n neerhalende arrogansie onder sommiges hier doer aan die suidpunt van ’n vergete kontinent. Dit manifesteer op verskeie maniere in ons taal, joernalistiek en letterkunde.

Jy moet hoofsaaklik ’n suiwer Afrikaans praat – kontreitaal word as fraai en outyds afgemaak, daarom het Afrikaans baie van sy kosbare idiomatiese uitdrukkings verloor.

Om nie eens van Kaaps te praat nie. Daar is mense wat protesteer dat niemand so praat nie, so hoekom moet daar so geskryf word.

Hulle dink dié taalgebruikers is draghoenders. Dit is ’n tipe pedantiese hubris wat die kraal dig wil hou en alles wat nie inpas in ’n eng norm nie, weg wil hou.

’n Ander verskynsel is lesers wat so bitterlik kerm oor hoe banaal Huisgenoot en Rapport is. Hulle vergeet gerieflik dat publikasies ’n wye teikenmark moet bereik om te oorleef.

’n Mens hoef nie elke artikel te lees nie. Daar is meer as genoeg om ’n verskeidenheid van smake te versadig.

Ek wonder waar daardie intellektuele lesers was toe Die Suid-Afrikaan, Insig, Boeke-Insig, die ou De Kat, en NuusNou destyds moes sluit? Toe Vrye Weekblad in 1994 tot niet gaan omdat die onnodige hofsake teen hulle tot bankrotskap gelei het, waar was hulle toe?

Hierdie neerbuigende houding broei onder vele oppervlakke. Daar is ’n vreemde hiërargie selfs in die joernalistiek. Met die aankondiging van die ATKV-Mediaveertjies se wenners word die volgende gesê: “Profielonderhoude is nie altyd uitdagende joernalistiek nie.”

’n Mens wonder watter een van die beoordelaars sulke twak kwytgeraak het. Dit is juis een van die moeilikste vorms van skryf omdat dit ’n lokval vir clichés en heldeaanbidding kan wees.

In die April 1966-uitgawe van Esquire het Gay Talese vir Frank Sinatra vir drie maande agtervolg om ’n profielonderhoud met hom te doen. Sinatra wou nie praat nie, maar Talese het hom by sy uithangplekke dopgehou en met die mense rondom hom gesels.

Dit word vandag beskou as een van die belangrikste stukke in New Journalism en kreatiewe niefiksie. In verslaggewing word die subs en die teksversorgers ook partykeer stief behandel. Die einste mense wat stories soms moet red en oorskryf kry die minste erkenning.

Laat ons nie van die snobisme in literêre kringe vergeet nie. Dié wat die hardste koning kraai is die digters, wat gereeld dink hul poësie is die fynste vorm van alle kuns. Op hul hakke is die romansiers, veral diegene wat ’n ensiklopediese verhaal kan skryf.

Jy mag hulle onder geen omstandighede kritiseer nie, anders kom hul voetsoldate jou by as ’n anti-intellektueel.

Kortverhale is ook maar minderwaardig, want hulle kan beslis nie kers vashou by die gróót Suid-Afrikaanse roman nie. Heel onder: Iets wat in ’n koerant verskyn kan wel ’n skets wees, maar beslis nie letterkunde nie.

Soos ’n skrywersvriend aan my noem: “Ek kyk altyd in ’n tweedehandseboekwinkel na die klassieke meesters. Wie is daar? Jane Austen, Joseph Conrad, ’n Rus of twee, Mark Twain, en nog enkeles.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.