Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Dis winter in die hart van droewe Suid-Afrika
Herman Lategan
Herman Lategan

oorwintering s.nw. Winterslaap. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

En so het die hart van die eintlike winter van 2020 oor ons land uitgebreek, al lê die lente en roer. Pers wolke het oor die binneland inbeweeg. Dik lae sneeu is oor die verlate bodem uitgespoeg.

In die nag het die koue gekom. As dit nie kapok was nie, het ryp en hael die grond oor horisonne heen bevries. In dié koue brand kinders en gesinne in die Kalahari dood. Hul smart sypel deur ons land soos ys wat in waterpype smelt.

Liegende, kil politici met slu, agterbakse planne en slymerige praatjies flikker op TV-skerms, koggelmanders met die reuk van halitose – muf en diefstal wat op hul tonge flits.

Die land se nuwe vlag hang nat, halfmas, ’n jammerlappie waarop kaders hul vuil vingers kom afvee, sonder skaamte. Die een ANC-hoëpriester se blink geslagsorgaan, polsend met hubris, soos ’n middelvinger, verskyn op video’s, maar hy laat hom nie stilmaak nie.

Sy geleende swart Mercedes-AMG G 63, wat R3 miljoen kos, word oombliklik nasionale nuus toe sy vrou uit jaloesie R500 000 se skade aan dié swierige koets rig. Sy arriveer by die hof met lang blou naels.

Dieselfde naels waarmee sy die oë van die flenterbroek-proletariaat uitkrap. Spykerhakke sodat kerkmuise weggeskop kan word.

By verkeersligte drom die armes nou soos klein skares saam. Deure word gesluit en vensters opgerol. Kyk weg, kyk weg, groen lig, laat waai.

Die statistieke vir hongerte, bankrotskap, selfdood en eensaamheid skiet die hoogte in. Taxi-oorloë breek uit, motorbande en swart rook. Die krag gaan af.

Honderde boere ruk op teen plaasmoorde en in Kaapstad klap bendes se skote in die lug. Inwoners in vele buurte leef bibberend agter toe deure in naakte vrees.

Leo Williams (9) van St. Helenabaai word in die kop geskiet terwyl hy met sy jong vriende sit en TV kyk. Protesoptrede teen die polisie volg, niemand aanvaar verantwoordelikheid nie.

Masjiene wat die negejarige seuntjie aan die lewe hou, is om 14:30 afgeskakel en tien minute later hou die kind op asemhaal.

Elders in die nuus lees ons die Weskus is getooi in ’n blommeprag. Elon Musk is nou die vierde rykste in die wêreld. Van wat weet ’n mens nie eintlik nie.

Tussendeur dit alles wonder ’n mens is óns die sprinkaanplaag van God en wat het van die lig van die vuurvliegie geword?

In Die Burger se “50 jaar gelede” staan daar oor die droogte in Prins Albert: “Hulle (die boere) vra nie aalmoese nie. Hulle vra hulp, soos werkgeleenthede op dorpe en padbouprojekte waar hulle net genoeg kan verdien om hulle gesinne te versorg. Daar is plaasmense wat nie petrol kan bekostig om dorp toe te ry nie. Daar is selfs broodsgebrek en honger.”

’n Mens besef hoe relevant een van die verse in Wilma Stockenström se gedig, “Winterslaap”, is: “Ek draai my om en strek die hand / uit in ruime eensaamheid en tas / net effe rusteloos na die wand / van ys en wol, vagdig om my.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Oorwintering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.