Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Distrik 6 is dood – maar die hart is nie

blessuur s.nw. Kwesplek, kwetsuur, wond. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

“There is no there there,” het die skrywer Gertrude Stein in Everybody’s Autobiography (1937) geskryf. Daarmee het sy bedoel haar huis uit haar kinderjare in Kalifornië het nie meer bestaan nie. Dit is verdwene.

Gedurende daardie tydperk van haar jeug het sy vele teer herinneringe in en om die woning opgebou. Geheuebeelde wat tot haar dood by haar gebly het. Dit het vir haar ’n tipe plekgevoel (a sense of place) gegee.

Die ontslape skilder en digter Peter Clarke moes vanweë die Wet op Groepsgebiede Simonstad vir die stowwerige duineveld van Ocean View verruil. As hy oor sy 43 jaar in Simonstad gepraat het, sy hartsdorp, het sy stem ’n mineurtoon aangeneem.

Daar word in Engels gepraat van: “Places that lack a ‘sense of place’ are some­times referred to as ‘placeless’.” ’n Niemandsland waar jy soos ’n drenkeling in ’n onderwaterwêreld wegdryf.

Die plasings het ingestroom met kommentaar soos dié: “My ouma het in Summer Hill-straat gewoon.”

Staan jy vandag, ná 25 jaar van demokrasie, in die hart van Distrik Ses, kan so ’n siellose gevoel jou dalk oorval. Die droë gras ritsel in die briesie.

Dit is plekloos. Stadig herrys geboue, maar heeltemal uit voeling met dié wond in die aarde se ryk verlede.

Daar word vandag nog vertel watter walglike krotbuurt dit glo was, maar nie vir die mense wat daar gewoon het nie. Toevallig het ek die Facebook-groep District Six – Cape Town ontdek.

Distrik Ses in die 1960’s.

Amina Toffar vra: “Salaam mense. Laat ons die name van al die strate herroep. Waar is jy gebore? Waar woon jy nou?”

Die reaksie was oorweldigend, met oor die 400 antwoorde. Die plasings het ingestroom met kommentaar soos dié: “My ouma het in Summer Hill-straat gewoon.” 'n Ander vertel hulle “het in Nelsonstraat gewoon, net langs die slagter”.

Ander straatname was Sydney, Aspeling, Richmond, Muir, Nile en Cantenbury. Elke straat met sy eie stukkie geskiedenis.

Moerieda Bernard skryf: “Stuckeris Street, then Pontiac Street, then Lesar Street, then we were uitgegooi to Mitchells Plain.”

Soraya Lakay sê: “We had nice times there. New Year’s Eve we sat in Hanover.”

Dit gaan aan. Sharifa Jassiem: “Gebore en getoë in Stirling-woonstelle 9, en toe verplaas na Lentegeur.”

Let tog op die ironiese woorde “lente” en “geur”, waarvan daar geen sweempie in dié voorstad is nie.

Bonteheuwel is ook glad nie bont nie. Al gewonder oor hoe pervers die politici destyds was (vandag se klomp is ook nie beter nie).

Baie van die destydse nuwe woonbuurte wat gebou is, is na bekende strate en stegies in Distrik Ses vernoem, soos Lavender Hill en Hanover Park. Asof dit nie genoeg was om 60 000 mense te ontwortel nie, moes hulle herinner word aan hul slagare wat uitgekerf is.

Distrik Ses is dood, maar daar is baie mense wat nog ’n plekgevoel oor dié buurt in hul harte lewendig hou.

Gaan staan tog op ’n dag in dié eensame gebied en sê Stein se woorde hardop: “There is no there there.”

En voel hoe die wind dit soos stom klanke uit jou mond wegwaai.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.