Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Dit is die begin van ’n nuwe storie . . .
Herman Lategan

inkerker ww. (figuurlik) Binne enge perke plaas, hou. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Hierdie week se woord het ek raakgelees op die reisiger en skrywer C. Johan Bakkes se Facebook-blad. Dit is ’n gepaste woord vir hierdie tye, nietemin, ons verbeeldings kan steeds vlieg.

Hy vertel onder die plasing: Ingekerker Dag 3: 29 Maart 2020, wat hy doen as hy iets roerend lees: “[So] af-en-toe tref ’n sin of sinsnede my en ek draf gemakshuisie toe en ek gaan skryf dit op die muur. My gemakshuis se mure is oortrek met sêgoed.” Jy kan ure aldaar deurbring, selfs as die nood nie druk nie.

Van die graffiti op sy muur is: “In die lampkring is daar drie – ’n swanger weduwee.” – W van Deventer.

“Ons het vir mekaar geglimlag en gewaai, maar ons het nie gegroet nie.” – Aldri Van Jaarsveld.

Dit het my herinner aan ’n tyd, jare terug, toe die digter Sheila Cussons vir ’n ruk by ’n ander digter, Phil du Plessis, in Kalkbaai gebly het. Hy het ’n mooi ou huis daar langs die treinspoor gehad. Cussons het ook soms daar in sy gastetoilet gedigte teen die mure geskryf.

Daar is baie reëls uit poësie of ander boeke wat ek graag iewers op mure sal wil neerpen, te veel vir ’n plek groter as ’n paleis. In die gedig “Heloïse” skryf einste Cussons: “Ek het vergeet wat ons gesê het, lief / die tyd het oud geword.”

Eugène Marais, “Die Towenares”: “Wat word van die meisie wat altyd alleen bly? / Sy wag nie meer vir die kom van die jagters nie / sy maak nie meer die vuur van swart-doringhout nie / Die wind waai verby haar ore / sy hoor nie meer die danslied nie.”

In “Ouma Farieda se kind” van Ronelda S. Kamfer: “[My] pa is my ma se lost inte­rior designer dream / in sy fifties toe lyk hy en die voorhuis dieselfde / in sy sixties is hy ’n wewenaar alleen / en lyk nou weer soos wat hy altyd was / Farieda se weggooikind.”

“Kaalkoppe”, van Fourie Botha: “In Mexikostad: dertien koppe / verkool langs ? vulstasie gevind / die polisie soek steeds lyke / om met die moorde te verbind.”

Uit “Ek sal opstaan” van W.E.G. Louw: “Ek sal opstaan en na my vader gaan / opstaan uit my vodde en my vuil / opstaan en onder die volle maan / wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil / aan sy breë skouer, en hóm saggies vra / om alles te vergeet, en te vergewe.”

In dié tye is die laaste sin in Crime and Punishment van Fjeodor Dostojewski sekerlik profeties: “But that is the beginning of a new story – the story of the gradual renewal of a man, the story of his gradual regeneration, of his passing from one world into another, of his initiation into a new unknown life. That might be the subject of a new story, but our present story is ended.”

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.