Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Dit ruik na soutwater hier waar Calvin hang

hondjie s.nw. Idioom: My ma het ’n hondjie, sy naam is Vreet Alleen. Spottend gesê as iemand jou nie laat saam eet nie. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die winters in Seepunt maak die oggendlug klam, veral voor sonsopkoms. Dit ruik na soutwater.

Douvoordag op Donderdag 4 Junie het ’n 20-jarige man van die see se kant af in St. Johns-weg in Seepunt opgeloop. Die strate was leeg. Miskien ’n brak wat blaf, ’n oumenshoesie, seemeeue met hul skor gekras.

Calvin Kevin Ilunga Kongolo, ’n hondeloper, het die straat opgestap, regs gedraai in ’n cul de sac, en geloop tot teen die einde van Monasteryweg. Hy het gaan staan voor die huis van eerw. Natalie Angela Barnard van die St. Andrew’s Presbiteriaanse kerk.

Dit is ’n statige ou kerk (1828) geleë aan die begin van Groenpunt, met dienste in Afrikaans, Engels en ook veral gemik op vlugtelinge. Eerw. Barnard is bemind vir haar liefde vir ontheemdes.

Calvin was ’n Kongolees. Hy het die halsband van ’n hond by hom gehad.

Miskien het hy vir ’n oomblik gebid of net stilgestaan. Daarna het hy op die muur voor haar huis geklim en die leerband styf teen ’n lamppaal vasgemaak.

Hy het die gedeelte waar die hond se kop gewoonlik deurdruk gebruik om sy eie kop deur te stoot. Die geliefde hondeloper druk toe sy kop deur die halsband bedoel vir die diere waarvoor hy so lief was.

Hy het gespring – of hy dadelik dood is weet ons nie – dalk het hy gespartel en het sy liggaam mettertyd leweloos geraak. Die straatligte het begin afskakel, want die son het opgekom.

Calvin Kevin Ilunga Kongolo

Iewers het ’n ma gesit en sy het nie geweet haar seun is dood nie.

Die klein woelwater wat sy teen haar bors gevoed het, het nou verlate in ’n doodloopstraat gehang.

Later die oggend het eerw. Barnard haar huis verlaat en op sy lyk afgekom.

Op sy lyf was ’n versie uit die Bybel.

“I felt a deep sense of connection with this man,” het sy gesê. “Watter smart en hongerte kon hom hiernatoe dryf?

“Hy was iemand se kind, se vriend en hy het my huis gekies om totsiens te sê.

“Ek sal nooit weet hoekom nie. Desperaat en alleen, so het ek sy asemlose lyk sien hang.”

Sy het ’n altaar van blomme om die lamppaal geplaas.

Daarna het die gerugte oor hierdie jong man op sosiale media vinnig versprei. Sommiges het gesê hy is deur sy werknemer afgedank. Ander het dit ontken en bespiegel hy was reeds ’n depressielyer. Sy vorige base, wat die onderneming besit wat hondelopers verskaf, vertel hy was ontsteld oor iets en het self bedank.

Uit Gauteng het mense op Seepunt se Facebook-gemeenskapsblaaie vuur gespoeg oor die term “He committed suicide”, want dit klink na moord.

Dit moet wees: “He died by suicide.”

Bekgevegte het uitgebreek.

Tussendeur die rumoerigheid het sy lyk stil in ’n koelkas in ’n dodehuis gelê: Sy familie te arm om hom te laat begrawe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.