Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Doodstil, maar wanklank eis daar moet nóg iets wees
Herman Lategan

eindakkoord s.nw. Akkoord aan die end van ’n musiekstuk, slotakkoord. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Dit was ’n windlose somersdag, jare terug. Ek het in Mouillepunt in ’n leë buitelug-restaurant gesit.

Op die agtergrond was die oop see met meeue wat vlieg. In die tyd van tiekiebokse was daar ’n oranje een op die sypaadjie.

Dit het begin lui en aanhou tingel. Iemand moes dit optel. Aan die ander kant wag ’n persoon.

Dit het aanhou roep. Vir wie was die onbeantwoorde oproep?

’n Minnaar? Vriend? Wat was die boodskap?

Watter gesprek sou volg? Soos ’n eindakkoord het die geklingel geëindig met die laaste naklanke wat in die lug wegglip.

Hierdie skugter verlatenheid wat die telefoonhokkie verwek het, het al telkemale aan my deur kom klop.

Wat is meer troosteloos as ’n motorhawe om middernag?

Skerp ligte wat brand op ’n sementblad. Kiertsregop petrolpompe, ’n joggie wat vaak-vaak nader stap. Die enjin wat moeg luier, afgeskakel word.

’n Straat 03:00 in die nanag met leë sypaadjies.

Eenkant ’n geparkeerde motor, huisie vol stories op wiele.

Ook op ’n treinrit deur die Karoo met vervalle stasies wat verbyflits, te verniel om te stop. Daar is niemand meer wat op- of afklim nie.

Herman lategan

Die dorpies, veral in die Vrystaat, staan byna leeg. Woonplekke waar mense eens gebly het se voordeur klap oop en toe in die bergwind. Swembaddens leeg, sportvelde droog, honde wat honger deur vullis vroetel.

Die kafee verkoop nou net vuurhoutjies, Lucky Strike, wasgoedpoeier en droë jellieboontjies. Waar die slaghuis was, is daar nou ’n begrafnisonderneming. Van die een karkas na ’n ander.

’n Vliegtuig in die nag as almal stil lê en slaap. Hoog bo die aarde in ’n metaalkokon.

Net buite Trompsburg is daar ’n motel. As jy daar aankom, is niemand by die toonbank nie. Die klokkie op die toonbank lui nie.

Tafels is fraai gedek, maar niemand sit aan nie.

Die interieur is van die 1970’s. Die tipe plek waar jy inteken sodat niemand ooit weer van jou sal hoor nie.

Die kroeg is dor, bar, vaal en ruik na ou sweet.

Die hele plek het lankal lepel in die dak gesteek.

In Bethulie is die ouetehuis aan jou regterkant soos jy die dorp binnekom. Hier is die gordyne toegetrek en hang daar ’n klankie van babapoeier oor die hele plek.

In Moorreesburg is dit op ’n Sondag so stil jy kan die aarde hoor sug. Al klanke is dié van die tien brakke wat in ’n huis toegesluit is en onophoudelik blaf en blaf.

Die tesourus praat van alleen, eensaam, hulpeloos, kil, troosteloos. Hier het ek eenkeer vir ’n man aanwysings gevra.

Hy kon skaars praat, sy gemompel seker maar van erge depressie. Die woorde dood in sy mond.

Tog, die mees afgesonderde, tjoepstil plek waar ek ooit was, is Antarktika. Die wit vasteland van die wêreld wat stadig wegsmelt soos slotakkoorde.

Dit word egter nie bevestig in die slotakkoord nie, ’n rowwe wanklank, wat vereis dat daar meer moet kom.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.