Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Droefheid oorweldig ’n man in Melville

inslaap (figuurlik) Sterf, ontslaap: Verlig my oë, sodat ek nie in die dood inslaap nie (Ps. 13:4). – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die man loop in Melville. Hy stap in Sewende Straat af. Daar is kroeë en restaurante.

Mense lag. Alles lewe. Die son skyn. Hy is op pad na die huis waarin sy goeie vriend grootgeword het, net om die hoek in Vierde Laan. 'n Jaar gelede is sy vriend se as op die Melville-koppies gestrooi. Oor die jare het hy vir die man gereeld vertel van sy grootwordjare in die 1980’s, hier.

Sy stories was sielvolle vertellings van 'n familie van sewe – ouma, ma en vyf kinders. By die hek vra die man die nuwe eienaar of hy asseblief kan inkom.

Hy herken die balkon en tuin, al sien hy dit vir die eerste keer. Daar in die straat het sy vriend fiets gery. In sy geestesoog sien hy kinders baljaar, sommige met haasbekkies.

Die huis ruik na tamatiebredie, sy ouma se gunsteling. Geluide van 'n gesin weergalm van kamer tot kamer.

'n Droefheid oorweldig die man. Hy strompel daar weg. Die winterson skyn skerp.

Hy loop teen die bult op en huil. Mense kyk hom aan. Hy verdwyn in 'n stegie om weg te kom van die gegluur.

’n Hippie kom nader en sê: “Sien jy al daardie geeste daaronder? Hulle wag op jou . . .”

Gedurende die jaar ná sy vriend se afsterwe gaan nog mense dood. Dit maak die man swaarmoedig. Hy sit soms met 'n hart wat só pyn, dit voel asof dit gaan stop.

Die man lê op sy rug en wonder wanneer sy tyd gaan kom, en hoe?

Hy raak aan die slaap en droom hy hou 'n fragiele ballon vas.

Dit is 'n aardbol met al die lande van die wêreld. Hy druk saggies aan die aardbol en dit verlig. Dit skyn skerp soos die son daardie dag in Melville.

“Dit is God,” sê 'n stem. “Hierdie wêreld, alles daarom, die mensdom en die heelal, is soos molekules in God se liggaam.”

Dit is 'n koorsdroom, dink die man. Dit kan nie waar wees nie.

Hy droom verder. Daar is 'n partytjie.

'n Vrou met wilde swart hare haal 'n rewolwer uit. Sy steek dit in haar mond, trek die sneller.

Roggelend kom sy na die man. Sy probeer iets sê.

Hy skrik en spring by die venster uit, maar hy klou aan die vensterbank. Toe hy afkyk, sien hy hy is omtrent 30 verdiepings bo die grond.

'n Hippie kom nader en sê: “Sien jy al daardie geeste daaronder? Hulle wag op jou.”

Die man kyk ondertoe en sien duisende flikkerende liggies. Dan is dít hoe ek gaan sterf, dink die man. Hy wonder waar sy kamera is sodat hy dit kan afneem, want niemand gaan dit glo nie.

Binne hoor hy die vrou fuif en sing met die wond in haar keel. Sy sing Nina Hagen se “Wir Leben Immer . . . Noch”.

Toe hy na onder val na waar die Kersliggies flikker, skree die hippie: “So much to do and say, and so little time. Hahahaha.”

Meer oor:  Inslaap  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.