Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Drywers vertel van aande vol nagmerries
Herman Lategan

agteruitkykspieël s.nw. Spieël aan ’n motor of ander voertuig waarin die bestuurder die pad agter hom kan sien. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Sommige mense kla oor Ubers, maar om een te bestuur kan sy eie hoofbrekens besorg. Wat hierdie taxidrywers al in hul truspieëltjies moes sien, grens aan die absurde.

Dié rubriekskrywer gebruik hulle gereeld. Die meeste kla oor die naweke wat so skurf raak.

Dit maak sin as jy gaan fuif en drink om liewer ’n Uber te gebruik. Tog kan ’n dronk mens wat sigself mildelik aan Bacchus offer soms wild raak.

Hulle vertel jong vroue in hul vroeë 20’s is gereeld die heel ergste. Jy sit nog en bestuur rustig dan vomeer hulle opeens op hulself, of op die vloer, sitplek, of nog erger, op die bestuurder se nek.

Ander vra dikwels hulle moet vinnig op ’n besige pad stilhou sodat hulle kan uitstrompel en langs die motor onophoudelik braak. Dit is senutergend, want in hierdie land waar die paaie so gevaarlik is, kan ’n ander kar jou maklik van agter tref.

Dan moet hulle nog van die beskonkenes uithelp na hul wonings, want die lywe is pap van die verfrissings. ’n Mens kan mos nie ’n stormdronke so in die straat laat lê nie.

Die motor moet dan skoongemaak word en oor die R1 000 of meer word van jou rekening afgelaai. ’n Lekker duur aand en dit net vir skapies aanja.

’n Uber-bestuurder van Seepunt, Bran­don Platt, vertel hoe twee verliefdes een aand blatant op die agtersitplek gekattemaai het. Maar eers moes hy as deel van die liefdesvoorspel luister na hulle dirty talk wat selfs ’n gesoute matroos sou laat bloos het. Verder is Platt een laatnag in Langstraat gedreig met sy lewe, maar kon darem wegjaag.

In Johannesburg het ek ’n Uber bestel en toe ek inklim kom die hele deur amper af. Die drywer moes uitklim en die deur oplig en toemaak. Hy was erg ontsteld hieroor.

“Nee,” vertel hy.

“ ’n Paartjie het agter gesit. Alles was eers rustig. Toe gryp die vrou die man se selfoon uit sy hande en lees sy teksboodskappe. Dit is toe die drama begin. Sy het hom begin slaan.

“ ‘For how long have you been seeing this bitch?’ het sy geskree.

“Toe klap die man haar deur die gesig.”

Die bestuurder stop toe die motor en vra dat hulle moet uitklim. Toe skop die man en vrou albei die deur af. Dit was helder oordag in die verkeer. Hulle is al gillend daar weg.

Dan was daar die man wat jongmense in Somerset-Wes moes oplaai. Hulle was mooi en elegant aangetrek. Op die oog af ordentlik. Hulle het hogere Engels gepraat met private-skool-aksente.

Die volgende oomblik lig die jongman sy boud en laat ’n wind. Hy doen dit weer. Die derde keer stop die bestuurder die motor en vra hulle om uit te klim.

Daar los hy hulle toe. In die donker op ’n verlate pad. Dit kom nou van wintie wees en boud oplig.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Uber  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.