Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Elke liewe voëltjie sing soos hy gebek is

cisgender b.nw. Betreffende ’n persoon wie se genderidentiteit ooreenstem met sy of haar biologiese geslag. – Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA Vertaal).

Toe ek op die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad was, was ek gelukkig om met beskaafde kinders en onderwysers te make te hê.

Alhoewel ek vroeg reeds bewus was ek is gay, het niemand my daaroor gespot nie.

Daar was ook ’n transgender seun wat toegelaat was om huishoudkunde in plaas van houtwerk te doen. Geen ooglid is verroer nie.

Eers toe ek in die weermag kom, het iemand gedink dit is snaaks om ’n bottel

Vaseline voor almal in ons barakke op my bed se kussing te plaas. Ek het my humeur verloor en met my hand deur ’n glasvenster geslaan.

Vandag sou ek dit aflag, maar dit was die eerste keer wat ek blatant verneder is oor my verwyfdheid, as ’n mens nou op genderstereotipes moet terugval. Want wie het met die fantasie begin dat seuntjies butch is en hou van gewere en blou kleure en meisies is giggelende prinsessies wat met poppe speel (gewoonlik wit, want swart is demonies)?

Daarna sou ek in die siviele lewe twee keer my werk verloor omdat ek hipermanlike base gehad het wat seker gedink het hulle moet rug teen die muur staan as ek verby hulle loop. Asseblief, nie elke straight man is aantreklik vir gay mans nie, don’t flatter yourselves.

Ek het aan hierdie goed begin dink toe ek lees die plaaslike kunsrolprent Inxeba (The Wound) word nou gereduseer tot pornografie, omdat twee mans se liefde vir mekaar by ’n besnydingsritueel die mense in die Rolprent-en-publikasieraad ongemaklik laat voel het. Geweld is fyn, moet net nie dat die moffies onder mekaar begin flankeer nie. Dan is hulle nog swart ook!

Kort voor dit het ek gelees interseks babas (van wie die geslag nie onmiddellik sigbaar is nie) in Suid-Afrika word stil-stil doodgemaak omdat hul families vir hulle skaam is. Hulle word as demone beskou. Hierdie is weerlose babas van wie gepraat word, nie diere wat na ’n abattoir gelei word nie.

Verder het ek gesien hoe die renjaer Lewis Hamilton een van sy sibbes se klein seuntjie tart omdat hy oor Kersfees ’n rok gedra het. Hamilton kyk reguit na die kamera en sê dan: “Ek is nou so hartseer.”

Dan draai hy die lens na die kind en koggel hom. Die dood is hartseer, Lewis, nie ’n kind in ’n rok nie.

My herinneringe het my ook teruggeneem na een van die Kaap se mees eksentrieke haweloses wat net verdwyn het, al soek ek eindeloos na hom. Hy het ’n mank been gehad en was in ’n rolstoel. Hy was ’n bekende gesig by verkeersligte naby die Mount Nelson en ook die Waterfront. Hierdie bedelaar het soms ’n tutu gedra met keurige rooi lipstiffie en sy naels was geverf.

Eendag het ek by ’n geleentheid vir Pieter-Dirk Uys vertel hierdie man irriteer my. “Hoekom?” het hy gevra. “Ek dink hy is wonderlik.”

En ek het my geskaam vir my eie kru vooroordele. Tot vandag toe.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.