Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Elkeen net ’n hologram swewend in die duisternis
Herman Lategan
Herman Lategan

moedersielalleen b.nw. Stoksielalleen. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Nege jaar. Dit is hoe lank ’n man se lyk in sy woonstel in Oslo in Noorweë gelê het. Sy liggaam is reeds in Desember gevind.

Tog word sy storie nou eers deur dié land se openbare uitsaaier, Norsk Rikskringkasting (NRK), bekend gemaak. Half asof hulle skaam is dat die soeklig op die emosionele kilheid van die mensdom juis op hul stad val.

Oslo is egter nie die enigste plek nie, dit gebeur gereeld in Seepunt.

“Stap deur Oslo se sjarmante woonbuurte, besoek koel restaurante,” sê een webwerf. Terwyl mense lê en vrot van alleenheid.

Was daar nie ’n stank nie? Die Kaapse spesialis dr. David Eedes sê in koue lande is die vensters dikwels dubbel in dikte. Woonplekke is goed teen die koue gestaal.

Hy het waarskynlik soos ’n herfsblaar uitgedroog en verdor. Verlede jaar is 27 mense in Oslo, Asker of Bærum meer as sewe dae dood voordat hulle gevind is.

Die jaar tevore was daar 32 mense. Een persoon was sewe maande dood, volgens syfers wat die NRK van die polisie ontvang het.

The Guardian berig die bure het gedink hy is inkennig of het weggetrek. ’n Opsigter wat instandhoudingswerk aan al die woonstelle wou doen, het op hom afgekom. Hy is aan natuurlike oorsake dood en was in sy 60’s. ’n Kartonhouertjie melk met die vervaldatum April 2011 het ’n aanduiding gegee wanneer hy dood is.

Sy pensioen is in 2018 gestaak nadat die owerhede hom nie in die hande kon kry nie. Rekeninge is outomaties deur sy bank afgetrek. Die poskantoor vertel as iemand se posbus vol raak, maak hulle dit eenvoudig leeg.

“Dat niemand na hom gesoek of gevra het waarheen hy gegaan het nie, is ongelooflik hartseer,” sê die burgemeester van Oslo, Marianne Borgen.

“Twee miljard mense het prins William en Kate in 2011 sien trou,” sê die NRK.

“Niemand weet of hy dit ook gedoen het vanuit sy woonstel in Oslo nie. Dit is dieselfde dag dat die polisie se lykskouer sê hy dood is.

“Dit sou nege jaar duur voordat sy deur oopgemaak word. In die nege jaar het die wêreld aangegaan.

“Parlementêre verkiesings, somervakansies, Donald Trump, die aanval op Utøya, naweke en weeksdae. Dit alles terwyl hy dood in sy woonstel in ’n grys blok oos van Oslo gelê het.”

Hy word Michael genoem. Dit is nie sy regte naam nie, maar is opgemaak uit respek vir sy verhaal. Hy het kinders, maar was van hulle vervreem.

Dalk het hy die lewe van ’n eenspaaier verkies, maar dat niemand gewonder het wat van hom geword het nie, is skrikwekkend.

In 2013 in Kaapstad het die teaterontwerper en sirkuseienaar Keith Anderson (op wie die rolprent The Flyer, deur Revel Fox, gebaseer is) in sy bed doodgegaan.

Hy was in die Heilsleër naby die Waterfront. Drie dae later, nadat sy lyk begin ruik het, is hy gevind.

Is dít wat van ons geword het? Hologramme wat eensaam deur die duisternis sweef.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.