Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: En skielik wonder almal van ons tesame

wonder ww. Nuuskierig wees. Uit verouderde Ndl. wonderen (1876). Eerste optekening in Afr. by Mansvelt (1884). D. wundern, Eng. wonder (1297). – G.J. van Wyk (2003), Etimologiewoordeboek van Afrikaans.

Die woord wonder het meer as een betekenis, maar in vandag se konteks beteken dit gis of raai. Sinchronisiteit speel ook ’n rol.

Hierdie rubriekskrywer het na sy leë rekenaarskerm gestaar en gewonder of die storie wat ek in gedagte gehad het sou werk, of aanstoot gee. ’n Gepeins het gevolg. Wonder wat nou?

Net toe verskyn daar ’n e-pos van Tobie van den Bergh, redakteur van die Middelburg Observer. Hy is ook aan’t wonder, maar op ’n heel filosofiese en selfs nostalgiese manier.

“Met die inperking wonder jy meer,” skryf hy.

“As baba wonder jy hoe gaan dit moontlik wees om met doek en al van kruipstadium na loopstadium te vorder. Laerskooltyd wonder jy oor hoërskool.

“Hoërskool wonder jy oor jou loopbaan, aanneming, rybewys, die weermag en eksamens. Jy wonder oor liefde, dié liefde.

“Maar toe wonder jy oor die AWB-seuntjie wat so kordaat en aanhoudend tydens ’n AWB-optog deur die dorp se strate geskreeu het: ‘AWB! AWB! AWB!’

“Dié foto het later ’n prys gewen en was op ’n uitstalling by ’n Kaapse koerantkonferensie toe die skrywer Jeanne Goosen stomverbaas was oor die jong knaap se politieke indoktrinasie.

“Aan die einde van die aand het sy gevra of sy die foto kan kry. Nou wonder jy wat van dié foto geword het?

“Jy wonder veral wat het van die seuntjie geword?

“Tot vandag toe wonder jy oor die vrou wat jy in die lykshuis moes gaan uitken, nadat haar naasbestaandes nie na vore gekom het nie en adjudant Uys gevra het jy moet help. Wie het haar op die spoorlyn gegooi agt kilometer buite Witbank?

“Wie het die Observer-korrespondent Willie Brase by Kranspoort doodgeskiet? Wie het die man vermoor wat in ’n vlak graf gekry is op die Jackaroo-plotte?

“Jy wonder of Johnny Boemelaar dood is. Jy wonder al ses jaar!”

Hy sluit af: “Eendag, eendag wanneer jou horlosie gaan staan, sal daar dalk nie meer wonder wees nie. Of sal daar?”

Nadat ek hierdie e-pos gelees het, gaan ek na my Facebook-blad. Die woord wonder spring onverhoeds op.

Die historikus en biograaf Lindie Koorts vra: “En daar wonder ek toe onwillekeurig: Gaan korona die finale doodsklok vir die Afrikaanse soengroet inlui?”

Soos die onvoorsienbare sameloop van omstandighede dit altoos wil hê – terwyl ek aan hierdie stuk werk, gaan kyk ek gou weer op Facebook. Daar sien ek ’n vers deur Philip de Vos:

“Matilda van Tonder / sit ure en wonder. / Hoe langer sy wonder / hoe meer gaan sy weet. / En hoe meer sy gaan weet, / is daar meer te vergeet. / Van stilsit en wonder / is sy lank nie meer fiks. / Sy lyk soos ’n poeding / en weet nou mooi niks.”

Toe ek vir De Vos van die sinchronisiteit vertel, sê hy: “Soveel dinge met my gebeur per ‘toeval’. Ek wonder soms.”

Presies.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.