Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Friendship Park: Waar jou drome terugspring
Herman Lategan
Herman Lategan

duiweltjie s.nw. Benaming vir die pinkie in vingerryme.– Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Tot my skaamte het ek die heel eerste keer gehoor van Friendship Park by die Toyota US Woordfees. ’n Mens sal agterkom hoe skaamteloos ironies en wreed dié naam eintlik is soos hierdie vertelling ontvou.

Suketu Mehta, die skrywer van die boek This Land Is Our Land: An Immigrant’s Manifesto, het 'n geskokte gehoor vertel van wat hy daar as joernalis met sy eie oë gesien het.

Dié plek is geleë tussen San Diego in Amerika en Tijuana in Mexiko. Die grens tussen hierdie twee lande is 3 145 km lank.

Dit is die enigste plek waar immigrante met hul families in Mexiko kan kontak maak. Pat Nixon het dit in 1971 ingelyf en gesê: “Ek hoop nie dié heining is hier vir te lank nie.”

Inteendeel, die skeiding het oor die jare dikker geword. Dit is nou nog moeiliker om met jou geliefdes te praat of hul gesigte te sien en is slegs naweke tussen 10:00 en 14:00 oop.

Lees jy die inligting op Friendship Park se webtuiste, laat hulle dit klink soos 'n heel jollie uitstappie. “To reach Friend­ship Park you must travel through the beautiful Border Field State Park,” lees die een sin.

'n Ander: “Friendship Park [ . . .] is a half-acre plaza overlooking the Pacific Ocean.” Jy kan sommer die seelug ruik met die branders wat wit breek. Die woord “plaza” klink ook eksoties. 'n Plek met kosstalletjies en musiek.

As dit in die winter reën, wat dit vir voertuie moeiliker maak om daar uit te kom, kan jy heerlik per fiets of te perd gaan kuier. Al aan die galop met die wind wat deur jou hare wapper.

Die werklikheid: Mehta (die joernalis) vertel jy het net 15 minute om met iemand deur die skeiding van dik maas te praat. Aan die ander kant is daar 'n bordjie met dié woorde op: “Aquí es donde rebotan los sueños”. Dit beteken: Hier is waar drome teruggebons word.

Mehta was daar met 'n man wat sy ma 17 jaar laas gesien het. Hy het werk as konstruksiewerker in die VSA gekry en het elke maand geld na sy familie gestuur. Hulle was brandarm.

Ná al die jare het hy sy ma nader sien kom. Net haar buitelyne en 'n bietjie van haar gesig. Hy kon mettertyd agterkom sy is verslons. Sy het sleg verouder.

Dié man het dan juis na Amerika gekom, nie om op Broadway te lanterfanter nie, maar sodat sy ma waardig kon leef en ouer word.

“Ek het jou lief ma,” het hy gesê.

“Ek het jou lief my kind,” het sy geantwoord.

Toe die vraag wat 'n ma, selfs ná 17 jaar, vra: “Eet jy darem, my kind?”

Hulle het hul gesigte teen die heining gedruk. Daar was 'n gaatjie. Hulle kon net hul pinkies daardeur druk. So het hulle ná al die jare weer aan mekaar geraak.

Dit staan bekend as die “dans van die pinkies”.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.