Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Geen gees van God sweef op die waters
Herman Lategan
Herman Lategan

beul s.nw. (figuurlik) Wreedaard, moordenaar. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Dit is ’n mooi dag in Mouillepunt. Ek sit buite met een van my geliefkoosde kelners, Bongo Ntanjane (32), wat by die Hussar Grill in dié buurt werk.

Hy vertel my van sy jare lange vriend Shepherd Ntanga (ook 32) wat saam met hom gewerk het. Tydens die grendeltyd moes hy ’n manier vind om ekstra geld te verdien. Met groot moeite het hy ’n motor gekry en vir Uber begin werk.

Van hierdie geld stuur hy klokslag na sy familie in Bulawayo waar hulle ’n sukkelbestaan voer. Een aand sit hy in sy motor. Hy wag vir ’n klant.

Iemand klim in. Die persoon skiet vir Shepherd met ’n pistool van agter in sy kop. Eers die volgende oggend kom hulle op sy lewelose liggaam af.

Hy het nog sy veiligheidsgordel aan gehad. Sy bebloede kop het skeef gehang. Daar is niks gesteel nie. Bongo het hom gesien. Hy het gehuil. Dit het nie in die media verskyn nie.

Shepherd was sy familie se enigste broodwinner. Hy het ’n vrou en twee kinders. Sy familie in Zimbabwe is verpletter. Hulle sit sonder ’n inkomste. Hongersnood is algemeen in hul gebied.

Shepherd se liggaam is al die pad terug na Bulawayo in ’n verkoelde lykswa vervoer. Toe sy familie hom laas gesien het, het hulle hartlik gegroet.

Bongo Ntanjane

Deur die jare het hulle na hom verlang. Hy het gaan kuier.

Hierdie keer het sy lyk daar aangekom.

’n Ruk terug sit konst. Khanyisa Stofile (30) in sy motor met twee vriende. Hulle is in Oliver Tambostraat in die Samora Machel-township.

Sewentien skote word op die motor afgevuur. Al drie insittendes is beseer. Konst. Stofile beswyk aan sy wonde.

Hy was Bongo se broer. Binne ’n kort tydperk verloor hy twee mense vir wie hy lief was deur skietmoorde. Sy familie is platgeslaan.

Daar is ook ’n vrou en drie kinders. Bongo se ma is reeds dood. Sy pa is vodde. Khanyisa was die een in die familie wat na almal se probleme kon luister en goeie raad gee.

Om ’n polisieman te word was ’n droom. Hy wou ’n verskil maak en iets met sy lewe bereik. Sy kollegas by die stasie in Philippi-Oos waar hy vir amper vier jaar gewerk het vertel ook hy was wys voor sy tyd. Hy het ’n oplossing vir elke probleem gehad.

Konst. Stofile se liggaam is deur Avbob na Bell, net duskant Peddie in die Oos-Kaap, vervoer. Covid-19-regulasies was van toepassing.

Minder mense kon kom. ’n Begrafnis wat gewoonlik vir ses uur aanhou is gesny na drie uur. Daar was ook geen “after tears party” nie. Dit is wanneer almal hul simpatie met familie en vriende betoon en in ligter luim verkeer.

“Hierdie moorde gebeur daagliks in die townships,” sê Bongo, “maar dit is nie meer nuuswaardig nie.”

Waar ons buite sit het ons oor die see uitgekyk. Daar was duisternis op die wêreldvloed en geen Gees van God het gesweef op die waters nie.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.