Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Granny Lee: Die ‘nagblom’ wat Hillbrow kon bekoor
Herman Lategan

bontdoenerig b.nw. Geneig om eksentriek te wees. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

In die 1970’s en 1980’s was Hillbrow ’n kosmopolitiese disko-paradys vir fopdossers, rent boys, gay mense, blink vinke, heteroseksuele mense en mense van alle kleure.

Hulle het omtrent aangetrek. Groot hare, stywe broeke, kort rokke, wit katpakke en stiletto’s.

Neonligte het geskitter.

Dié klubs het teen middernag begin blom. Hierdie flikkerende cha-cha-paleise het name soos Zipps, Mandy’s, The Dungeon, The Anaconda Bar, Connection, Skyline en Truckers gehad.

Sommige het deurskynende dansvloere met gekleurde ligte wat van onder skyn laat praal. Dit het ’n dansvloer in ’n rondomtalie van kleur verander.

Omdat dit daardie dae onwettig was om gay te wees, en vir wit en swart mense om saam te meng, het die polisie gereeld klopjagte kom uitvoer. Die queens en die gigolo’s is gereeld agter in ’n vangwa gegooi, maar hulle was veral kwaai omdat rasse gemeng het.

Later het hulle opgegee. Die klankbaan van hierdie era was liedere soos die Bee Gees se “Stayin’ Alive” en Leo Sayer se “You Make Me Feel Like Dancing”.

Granny Lee. Foto: Herb Klein

Een persoon wat in hierdie tyd uitstaan, was iemand wat haarself Granny Lee gedoop het. As Granny Lee nie presies om 01:00 by jou klub ’n grand entrance gemaak het nie, was die aand maar vaal.

Die opwinding was om te sien wat sy daardie aand weer gaan aanvang, ook wat sy gaan aantrek. Gereeld ’n groot hoed, met die grimering aspris lomp aangesit, baie maskara en oogskaduwee.

Een aand het sy van die derde verdieping van ’n balkon afgetuimel tot op die dansvloer. Daar het sy in ’n hoop gelê. Al wat jy kon sien, was ’n opgepofte rok en hoed. ’n Gestorwe swaan.

Die mense was rasend. Hillbrow sonder Granny Lee is soos braaivleis sonder tjops. Was sy dood? Net voordat hulle die musiek wou afsit om te kyk wat aangaan, spring sy op, lag kliphard en kap dit verder uit op die dansbaan.

Sy hoef ook nooit vir haar drankies te betaal het nie. Haar gesig het vir ’n onverklaarbare rede witter en witter geword.

Dit het haar die aura van ’n dekadente nagklubdanseres in Berlyn tydens die Weimar-republiek se bewind gegee. Met haar verbeelding was daar niks verkeerd nie.

Sy het vertel haar ma werk vir die Oppenheimers, sy is in Stockholm gebore en was ook die heel eerste Mej. Suid-Afrika. Haar ouderdom het jaarliks gewissel, dan was sy 76, of 83 en later 72.

Toe daar nog ’n stigma aan MIV/vigs was, het sy die siekes gaan besoek in hospitale en aan hul wange gevryf. Een nag spring sy in ’n motor op die agtersitplek en gaan saam met iemand Durban toe.

Daar het sy eens as nagblom op die skepe gewerk. Hulle het verongeluk.

In die TV-program Metamorphosis vertel ’n polisieman hoe hulle eers in die dodehuis agtergekom het sy is ’n man. In haar identiteitsdokument was haar naam Lennie du Plooy.

Haar ras: Coloured. Sy is aan haar groen vingernaels uitgeken.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Bontdoenerig  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.