Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Hoe – en hoekom – kan so iets gebeur?

bros b.nw. Hard, maar maklik in brokke verdelend; krummelrig: Gegote yster is bros. Bros beskuitjies. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal ­(A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Dit kom wanneer dit nie verwag word nie. Twee gebeurtenisse wat voor my afgespeel het, wat die broosheid van ons lewe illustreer.

Jy maak nog planne vir die dag, dan verskyn die noodlot. ’n Fatum rus oor jou.

In ’n sjiek winkelsentrum in Groenpunt stap twee kristalfyn bejaarde vroue met hul inkopies. Hulle gesels gemoedelik.

Die loopoppervlak in die oop binnehof is bedek met groot swart teëls. Hulle is nat omdat daar ’n motreën uitgesak het. Die een vrou gly en val hard met haar kop op die marmervloer.

Binne sekondes stroom bloed by haar mond en die wond aan haar kop uit. Sy lê doodstil, bewegingloos, met net die lewe wat uit haar uitvloei.

Haar vriendin is rasend en skree: “Oh no, oh no!”

Ons is winkelpoppe met dooie oë en verstarde uitdrukkings.

Op die agtergrond gaan die lewe aan. ’n Man kyk na ’n kunswerk in 'n galery. Iemand pas oefenskoene aan.

By ’n eetplek word groot wit borde vol linguine vongole, wat na see ruik, deur jong kelners na tafels toe gedra. Hulle hou die borde in die lug, wit doeke hang oor hul arms.

Met ’n dramatiese swaai van die arms word die stomende ambrosia voor mans in snyerspakke en vroue in ontwerpersrompe neergesit. Die kelners het blink en welige swart hare, gladde olyfvelle. Hul dae lê soos 'n eindelose blou somer voor hulle.

Ek is stom en probeer haar vriendin troos. ’n Sekuriteitswag maak ’n oproep vir ’n ambulans. Nog iemand bring ’n lap en probeer die bloed stol, maar niemand is vir noodhulp opgelei nie.

Ons is winkelpoppe met dooie oë en verstarde uitdrukkings. Toe ek die sirene hoor het ek oorstelp geloop, daar was niks wat ek kon doen nie. Ek onthou net ek het haar vriendin se stem gehoor: “How could this happen?”

Dít en die geklik en geklak van messe en vurke, die geluide van bonhomie, ’n gelaggery. Later het ek gedink aan twee reëls uit ’n gedig van Eugène Marais: “Die wind waai verby haar ore / sy hoor nie meer die danslied nie.”

Die tweede voorval was buite dieselfde sentrum. Dit het in Somersetweg gebeur, ’n besige hoofdeurroete na Seepunt, waar motors, busse, motorfietse en minibustaxi’s jaag asof die vlamme van die hel agter hulle aanwaai.

’n Man in ’n blou oorpak het vir ’n oomblik nie regs gekyk nie, in die pad getrap en is deur ’n motor raakgery. Hy het deur die lug getrek en het op die teer geval.

Hy was compos mentis en dit het gelyk asof sy beserings oppervlakkig was. Ons het hom kalmeer, die verkeer gestop, ’n glas water gebring en aangedring hy moet nie beweeg totdat die ambulans kom nie.

Hulle het vinnig opgedaag, hom stadig op die draagbaar gelaai en agter ingerol. Net voordat hulle die deur toemaak hoor ek sy woorde: “What have I done, Lord, what have I done? Why? Why? Why?”

Meer oor:  Bros  |  Woorde Wat Wip  |  Noodlot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.