Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: 'Hoe water my mond vir daardie dae'

fooitjie s.nw. Geskenkie in geld aan ’n werker vir bewese dienste of gedane moeite, gebruiklik in die restaurant- en hotelbedryf. Uit Nederlands. Fooi. Vroeër in Afrikaans as anglisisme beskou, maar tans algemeen gebruiklik.

– Etimologiewoordeboek van Afrikaans (G.J. van Wyk et al)

In hierdie dae van waterskaarste wat soms ook kan lei tot ’n droogte in ’n mens se gemoedstoestand dink ek terug aan klein kolle van oorvloed, maar veral sekere mense uit daardie era.

Dit was die middel 1980’s en ek het as kelner gewerk om as student en swerwer ’n ekstra inkomste uit fooitjies in van die Kaap se topeetplekke te verdien. Dit was die tyd van liquid lunches (die ironie). Water was die heel laaste ding waaraan restaurantgangers gedink het, al was dit in oorvloed.

Ten spyte van die gespanne en snaarstywe politieke toestand, was dit die periode van lang en uitgerekte noenmale, Meerlust Rubicon, groot krewe, volop perlemoen en biefstukke wat van jou bord afgehang het.

Die borde was so groot soos waatlemoene en net so swaar as jy hulle na die tafels aangedra het. Maar dit was van die klante wat my bybly. Daar was diegene met interessante gewoontes, ook dié wat goeie of slegte fooitjies (ten spyte van puik diens) nagelaat het.

Die eetplekke was die Upper Crust, Rozenhof en Die Kaapse Tafel, almal in die stadskom van Kaapstad. ’n Gereelde besoeker by eersgenoemde was die ou rugbyman Jan Pickard.

Hy was ’n gawe man, maar het verskriklik gemompel. Ek het dus dikwels tot my skaamte die verkeerde dis na hom aangedra, wat hy maar gewillig geëet het.

As hulle sout op hul kos gooi voordat hulle daaraan proe, het hy geweet: Hierdie persoon neem waarskynlik nie ingeligte besluite nie.

Hy het aljimmers ’n ruim fooitjie gelos, nes Winnie Mandela, Bantu Holomisa, Die Groot Krokodil se Elize Botha en die ou statige heer Anton Rupert.

Vir Rupert moes jy permanent sorg dat daar sout op die tafel is. Hy het dit gebruik as lakmoestoets op onwetende gaste.

As hulle sout op hul kos gooi voordat hulle daaraan proe, het hy geweet: Hierdie persoon neem waarskynlik nie ingeligte besluite nie.

Die selebriteitsjoernalis Barry Ronge het nooit ’n fooitjie gelos nie.

Vir die stigter van TrustBank, Jan S. Marais, moes jy vooraf die volgende reg hê: ’n Bakkie met heuning, knoffel en gemmer. Dit het hy dan langsaam op sy eie vooraf verorber.

Daar was herhaaldelik ’n nuwe aanvallige en lang vrou saam met hom, en hy het ’n mooi en modieuse rooi sakdoek in sy baadjie se boonste sak laat praal. Hy het aan ’n statige ou lord herinner.

Dalene Matthee kon wild vloek as sy met haar gaste praat, nogal verfrissend so tussendeur al die spoggerige en fluisterende mense by die ander tafels.

Die ouduitgewers Danie van Niekerk, Koos Human en Kerneels Breytenbach (laasgenoemde blywend met ’n strikdas) was altyd deftig en sjarmant. Dit was die dae toe uitgewers oor lang etes skrywers soos adel behandel het en ’n menigte idees vir nuwe boeke bespreek is.

Hoe water my mond vir daardie dae, en dit nogal so in die huidige droogte.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.