Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Hospitale wat soos die dood self lyk . . .

stiefmoederlik b.nw. Nie met egte liefde nie. Liefdeloos en hardvogtig. – Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (6de uitgawe).

Herman Lategan
Herman Lategan

Ons het in die kil melkwit gange van die hospitaal tot by sy kamer geloop. Dit was leeg. Daar was net ’n bed, ’n kassie en een stoel.

Die plek was gestroop van enige atmos­feer, liefde of medemenslikheid. ’n Kliniese reuk soos by ’n dodehuis het die lug versmoor.

Hierdie hospitaal is net oorkant Berghof in Oranjezicht, waar Elsa Joubert haar boek Spertyd geskryf het. Ons het saam met dié man, wat ook in Berghof woon, die vertrek binnegegaan.

Hy was 90. ’n Dokter wat vandat hy 25 was, ander moes gesond maak. Nou sit hy as pasiënt op die hoek van die bed. Die diagnose was longkanker.

Sy spertyd het gekom. Hy het verwag hierdie dag sou aanbreek, maar was steeds bleek van skok.

Hoeveel keer moes hy nie in sy lewe daardie boodskap aan mense oordra nie? Hier is dit nou. Drie weke om te groet.

Sy oumenshare was deurmekaar, sy gesig stroef. Ons moes hom daar los vir sy laaste bevestigende toetse.

Ek het vir ’n wyle omgedraai en ’n man sien sit wat besef het dit is verby. Dit was die dood waarna ek gekyk het.

Opvallend was hoe ongenaakbaar hard en ongasvry ’n hospitaal kan wees. Inhospitable, soos die Engelse sê.

Op currentaffairs.org skryf die joernalis Nathan J. Robinson hospitale moet plekke wees waar jy moet goed voel. Ja, dit is vol siek of sterwende mense, maar moet dit so brutaal wees?

Die ligte skerp, meubels ongemaklik. Alles is lelik. Die burokrasie van vorms invul is uitmergelend. Hier en daar ’n bos blomme wat na begrafnis ruik.

Daar is min verwelkomend. Soms word jy vir ure alleen op jou bed gelos waar jy bloot geïgnoreer word, soos die man oor wie hier geskryf word.

Hy is self skuifelend daar weg, terug na die aftreeoord, waar hy in sy eie bed kon sterf. Waar warm kleure hom kon omring en die vensters oopgemaak kon word vir die lied van die voëls buite.

Die bries wat die bome rustig laat wieg. As jy mooi luister hoor jy die stroompie van Tafelberg se hange vloei.

Marlene van Niekerk se fyn en sensitief geskryfde boek Memorandum is gepubliseer met skilderye deur haar vriend die ontslape kunstenaar Adriaan van Zyl. Sy realistiese werke is van die Tygerberg-hospitaal.

Van binne die krankhuis skep hy ’n gevoel van absolute verlatenheid en verdriet. Daardie lang eindelose gange waar middernagtelike voetstappe en die treurige gehoes van sterwendes weergalm.

Geen lig aan die einde van daardie tonnels nie. Die personeel voos en oorwerk, die gevoelswêreld skrikwekkend.

Die gebou van buite is soos ’n rooibaksteengebou in Liverpool waar organe verwyder word en masjiene afgeskakel word. Ja, dit is tog wat daar gebeur, maar moet dit soos een groot krematorium lyk?

Ons gaan almal dood, maar ten minste kan hierdie geboue van binne en buite meer menslik wees.

Of is dit bloot die rou vergestalting van ons eie vrees vir afsterwe?

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Kunstenaar  |  Memorandum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.