Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Hou maar aan lawaai, môre is dit vergete . . .

laatdunkend b.nw., bw. Met ’n hoë dunk van eie voortreflikheid; wat met minagting op ander neersien; verwaand; aanmatigend. – Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (e-HAT 2009). Hoofredakteurs: Rufus Gouws en Jana Luther.

In die tuin van hubris het die diereryk weer luidkeels hul onvergenoegdheid met die wêreld laat hoor. Veral die hoenders het gekekkel en gekraai oor wat hulle nou weer op Twitter of Facebook moet tik oor een of ander vae sosio-politieke kwessie.

“Waaroor kan ons aanstoot neem?” vra die koekoekhoender. “Onthou, dit is belangrik dat ons aanhou klik-en-klak, sodat ons mekaar kan hoor. Ons moet in een groep bly, nie afdwaal nie. Dié wat buite die kring verdwaal sal les opsê.”

“Ja, ons hoenders moet saamstaan,” sê die pêrelhoender. “Dink gou aan ’n rede vir onnodige geraas, ’n palooza, anders val ons bende uitmekaar.”

“Maar ons is mos nie skape of lemmings nie,” waag ’n klein geel kuiken dit om te sê.

Daar daal ’n stilte neer.

Met een skop word die kleintjie oor die tuin se muur geslinger en val reg voor ’n motor wat hom plat trap. Sy veertjies wapper op die teerpad.

“Moving along swiftly,” sê die bantam.

“Wat kan ons doen sodat ons nie onsigbaar voel nie? Anders is dit net die groot niet.

“Miskien weer juig oor ’n holruggeryde skaap as simbool van die wit mens (ook bekend as ’n 1652) wat op ’n strand keelaf gesny word.

“Siya en die kwotastelsel? Mandela as verraaier? Wie weet? Wie gee eintlik om?” vra die korhaan, en gee een helse kraai sodat die hele tuin bewe.

“Maak net lawaai. Die volgende dag is alles vergete.

“Indien nie, sal daardie brulpadda oor die radio, Eusebius McKaiser, elke druppeltjie bloed uit daardie klip uit tap. Het jy geweet op die Wikipedia-blaaie oor Icarus word sý foto ter illustrasie gebruik?”

Gepraat van paddas. In ’n ander gedeelte van die tuin mor hulle onder mekaar oor wie die beste is.

“Hiërargie!” skree die lawaaipadda. “Ons is die hekwagters. Sommige beklee ’n hoër rang in verskeie nerings as ander.

“Kyk na die letterkunde. Die digter hou van neersien op die romansier wat weer dink die kortverhaalskrywer is ’n indringer en nie ’n ware kunstenaar nie. Die een wat kortverhale skryf, dink weer joernalistiek is ’n grap.”

“En so hoort dit,” antwoord die kwetterpadda.

“ ’n Padda moet mos sy plek ken. Selfs in die joernalistiek, die sogenaamde laagste vorm van skryf, is daar trappe van vergelyking. Kan jy nou meer!”

“Stilte!” kwaak die woestynreënpadda.

Die tuin is roerloos. Die woestynreënpadda lê op sterwe, sy dae is min.

“As julle soos ek moet terugkyk op hierdie kort lewe van opgepofte ego’s, raas en skel, wat is die punt van hierdie gejaag na wind? Alles is van ’n verbygaande aard.”

“Tog net nie nog sentimentele clichés nie,” spot ’n skurwepadda.

Op daardie oomblik skiet iemand ’n noodfakkel in die tuin af, wat die droë blare aan die brand laat slaan. Die tuin word gereduseer tot as. Van die laaste smeulende rookkolomme, soos dié by die skoorsteen van ’n krematorium, word deur die wind weggewaai. Stilte.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.