Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Idiome gee asem aan ’n taal – dink aan al die name
Herman Lategan

piet: ’n . . . piet idiomatiese uitdrukking. Persoon wat ’n karaktertrek of eienskap soos deur die adjektief beskryf, openbaar: Wat ’n saai piet — al wat hy doen, is werk. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Dit is teleurstellend dat Afrikaans, veral in stede, se idiomatiese uitdrukkings nie so gereeld as op die platteland gebruik word nie. Dit gee asem aan ’n taal.

Hierdie rubriekskrywer het gedink aan die name van mense wat in ons sêgoed gebruik word. Hulle is volop.

Vat maar die gewilde naam Piet. In Johanna de Wet se Wat praat jy! is daar ’n lang lys.

Twee wat uitstaan is: Piet Fluit is uit die mode – die tuitketel waarin op die koolstoof water gekook is, is uit die mode. Dan is daar: Aitsa, maar jy het ’n hele Piet geword – jy het mos ’n vername persoon geword!

Om van Jan nie te praat nie. In Anton F. Prinsloo se Annerlike Afrikaans oor kontreitaal is daar ’n rits uitdrukkings met dié (deserdae erg gepolitiseerde) naam: Jan se hand – sterk drank, byvoorbeeld skink ’n bietjie van Jan se hand (Piketberg, Swartland).

Kry jy koud? Dan is daar mos Jan Rooi se kombers – ’n vuurtjie op ’n koue wintermôre (Napier). Kyk jy na die mooi sonsondergang kan jy sê: Jan Lap sit op die klip – as die son op die punt staan om onder te gaan (Ceres, Redelinghuys).

’n Mens wonder wie nog die naam Koos onthou vir die kamerpot wat jy op die plaas onder die bed ingedruk het? Dit staan ook bekend as Koos hand-in-die-sy (King William’s Town).

Dié pot het eufemistiese name soos bloukoos, nagspieël en uilspieël. As Koos ore kry, dink hy hy is ’n blompot – gesê as niet kom tot iet.

Moenie van Dawid vergeet nie. Toe Dawid oud geword het, het hy psalms gemaak – vertel van iemand wat vroom geword het toe hy ouer geword het – dit terwyl hy in sy jeug losbandig was.

Is jou naam Klaas? Klaas Witveer is ’n stoomlokomotief, stoomtrein, so genoem omdat die rook aan ’n wit veer laat dink (Bonnievale, Robertson, Swellendam). Hy word so gebruik: Klaas Witveer se dae is verby.

Klaas blaas die fluitjie, gooi sy ma met ’n kluitjie! ’n Uitskelrympie om iemand met die naam Klaas te terg.

’n Klaas Houtgesig is ’n jakkals (Noord-Kaap). Dit het ook ’n ander betekenis: Daar kom Klaas Houtgesig – jy kan nie sy gesigsuitdrukking lees nie.

Op die tema van jakkalse: Klaas Naald het weer ’n skaap gesteel – jakkals het weer ’n skaap gesteel.

Judas was nie net ? tweegatjakkals nie, nee ’n Judas is ook die persoon wat die geld beheer en moet uitdeel (McGregor). ’n Mens kan ook vra: Wie is Judas? – wie dra die geld?

Vrouename staan ook nie opsy nie, alhoewel daar soms ’n neerhalende klankie oor hulle hang: Sy lyk vandag soos Antjie Somers – sy lyk erg verwaarloos.

As sy ’n ware dogter van Eva is, is sy tipies vrou. Nou wonder ’n mens maar net wat dít nou eintlik beteken?

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.