Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: In die blou van onthou is daar ’n veld getrou

rooihaartjie s.nw. Fynbosplant met trossies pofferige, buisvormige rooi blomme wat taai, fyn haartjies op kort takke dra. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Herman Lategan
Herman Lategan

Dit is lente. Ek het weer Madine Swart se insiggewende boek, Flora se geheime taal (Strandveldboeke), nadergetrek.

Sy praktiseer as sielkundige. Haar liefde vir plante het haar genoop om navorsing te doen oor die emosionele waarde wat plante vir mense het. Daar is ook staaltjies oor waar van die plante hul naam kry.

Watter pragtige plantname het ons nie in Afrikaans nie. Waternooientjie, ploegtydblommetjie, spogviooltjie – sy vertel oor baie name wat jou in 'n nuwe lig na hulle laat kyk. 

'n Mens wonder hoeveel van ons wat verstedelik het ken nog hierdie nomenklatuur.

Sy skryf volgens 'n legende was die Skepper klaar met kleure uitdeel vir al die blomme toe een uitroep: “Vergeet my nie!” Daar was niks meer oor behalwe 'n klein bietjie blou nie. Tog was die blom verheug om so 'n ligte skakering te kon dra.

By begrafnisse speel blomme 'n groot rol, maar sommige mense versoek geen plante nie. In die geval van Con de Villiers, bekende kultuurmens van die Overberg wat te lief was vir blomme om hulle só te vermors, het hy gesê: “Wat peuter 'n mens nou met blomme by ou dooie beendere?”

Swart vertel: “Aalwyne word dikwels in familie-kerkhowe op plase aangetref waar hulle waardig dra aan simboliek van die ewige lewe, onverganklikheid, asook die grens tussen die lewe en dood. Aalwyne simboliseer gehardheid, maar ook bitterheid en verlies as gevolg van die bitter sap van die plant. Die heling wat die bitter sap kan bring, bied hoop vir iemand wat deur 'n tydperk van rou gaan ná die verlies van 'n geliefde.”

Sy sê die kombuise van ons voorgeslagte het ook 'n ryk bydrae tot volksname gelewer. Wasbessie is gebruik vir die maak van politoer en kerse.

Die windmakerbossie is gebruik om oonde mee aan die brand te steek. Die bossie is gebruik om in die lug te waai sodat die vuur in die oond, wat dikwels buite gebou was, kon brand. Nog oulike volksname vir hierdie plant is bakkersbossie en kaalgaarbossie.

Daar is die oondbesembossie, ook gebruik vir die bakoond buite die huis. 'n Handbesem is daarvan gemaak en die as en kole is daarmee uitgevee. 'n Bygeloof wil dit hê dat die brood nie goed sal bak alvorens die oond met dié bossie uitgevee is nie.

Daar is vele stories soos dié in Swart se boek. Sy maak 'n belangrike punt wat ook op ons van toepassing kan wees: “Besoekers en reisigers wat nie (ons) landskap intiem leer ken het nie en (daarna) verwys het as dor, eentonig en herhalend, moes dalk net 'n bietjie langer vertoef het, en fyner gekyk en geluister het.

“Die ryk verskeidenheid plante en hul beskrywende volksname spreek van die teendeel en dui op 'n intieme kennis van die veld.”

Hier is 'n nuwe lente om ou plantname in herinnering te roep. Kry daai stapskoene reg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.