Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Inderdaad Kersfees – ook vir die haweloses

odussee s.nw. Uitgebreide reis-, swerf- of soektog gekenmerk deur avonture, moeilikhede, vertragings. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

“Nooit sou ek as kind kon droom ek sal Krismis op straat sit nie. Die lewe vat jou soms op onverwagte swerftogte.”

Dit is Ivan Williams (47) wat praat. Die afgelope 13 maande slaap hy onder die bloekombome in Groenpunt. Sommige media skryf graag oor wat glanspersoonlikhede oor Kersfees aanvang. Hou verby.

Ek het besluit om met ’n paar hawelose mense te praat oor wat hulle op die herdenking van Jesus se geboortedag gaan doen. Dit is moeilik, omdat arm en weerlose mense maklik gestereotipeer word as antropologiese kuriositeite.

Dan is daar “poverty porn” en die neerhalende, haai-siestog-mentaliteit. Hier is vir jou ’n oorskietkossie, die kinders kon die koek nie klaar eet nie.

Die dakloses met wie ek gepraat het, is grotendeels mense wat ek gereeld sien en ken. Hulle het nie een verneder gevoel deur hul stories te deel nie, want “dit is ons stories, ons kan doen daarmee wat ons wil,” sê Stephan Danhause (51).

Hy is al 13 jaar lank op straat en sy maaltyd vir Kersfees sal ’n halwe brood en melk wees.

Miskien kom hy nie terug nie, want oor twee jaar is hy 60 en te oud vir die strate.

Hylton Smit (32) is die afgelope vier jaar sonder heenkome, hy gaan homself bederf daardie dag. ’n Hele brood en ? blikkie chakalaka.

Lluwellyn du Plessis (58) was ’n spoorsnyer op sy dag en is een van Seepunt se heel bekendste ontheemdes. Hy is ook ’n gereelde lid van die NG gemeente Drieankerbaai. Die dag toe ek hom sien, het hy ’n klein tas by hom gehad.

“Ek is op pad na Oudtshoorn. Vir Kersfees besoek ek my ma, pa, ouma en oupa se grafte in Dysselsdorp. Hulle is in Bloupunt begrawe. Ek gaan blomme op hul grafte sit en praat. Daar is baie om oor te praat.”

Hy gaan by ’n oom, Appolis du Plessis, braai en daar gaan aartappelslaai wees. Miskien kom hy nie terug nie, want oor twee jaar is hy 60 en te oud vir die strate.

Voyager Helger (63) sê hy is ’n eenkantmens. Dinge met sy mense het te gekompliseerd geraak, nou woon hy al ’n jaar lank in die buitelug. Op 25 Desember gaan hy sit waar hy elke dag sit, oorkant Shoprite in Seepunt. Waarna hy smag, is kalkoen. Hy glo vas iemand gaan vir hom daardie dag ’n vette gee.

Virginia Springett (75) is hierdie gebied se geliefste nagblom. Miskien sal haar seun haar kom haal.

Eintlik gaan die dag verloop soos elke ander dag op die hoofweg in Groenpunt, waar sy sal wag vir besigheid, in sonskyn of reën. Dalk kry sy ’n present.

Daar is ander opsies: As jy op Kersdag swerwend in die Kaap is, en kos en geselskap soek, is daar om 11:00 ’n noenmaal by The Carpenter’s Shop in Roelandstraat, ’n katspoegie van die parlement. ’n Donasie van R100 sal tien mense voed.

“Dit gaan heerlik wees,” sê die telefoniste. “Daar gaan geroosterde hoender wees, beetslaai, aartappels, tamatieslaai en Oros om te drink.

“As daar skenkings is, miskien ’n geskenkie vir elkeen.”

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.