Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Is vergete Zimbabwe ’n kristalbal vir ons?

verhole b.nw. Verborge, onsigbaar. Uit Nederlands verholen. – Etimologiewoordeboek van Afrikaans (G.J. van Wyk)

Dit is Vrouedag. As daar een vrou is wat hierdie rubriekskrywer vandag wil vereer is dit die Zimbabwiër Cathy Buckle (63).

Dit is of haar skrikwekkende briewe uit dié land in die niet verdwyn. Hoewel haar blog, Letters from Zimbabwe, al 17 jaar bestaan en dit jou ewe kordaat meedeel dat haar kommunikasies in verskeie publikasies verskyn het, asook in onder meer vier boeke, bly haar hulpkrete onbeantwoord.

Sy is verhole.

In 1990 het sy en haar voormalige man ’n plaas in Marondera gekoop. Dit is ongeveer 78 km oos van Harare. Saam het hulle dit in ’n produktiewe bedryf omgeskep.

In 2000 is hulle deur oorlogsveterane van hul grond af weggejaag.

Sy spesifiseer sy skryf nie as ’n akademikus, deskundige of historikus nie, maar as ’n gewone vrou wat in Zimbabwe woon.

Haar briewe is in ’n feitelike styl en lees soos iets uit ’n riller.

Sodra hulle vir eetgoed soek, word hulle aangeval.

In een van haar onlangse briewe vertel sy hoe die regering vir oor die 300 000 staatsamptenare gelieg het oor ’n sogenaamde hulpfonds gedurende Covid-19. Daar het dadels van gekom.

Die joernalis Hopewell Chin’ono is in hegtenis geneem omdat hy korrupsie met Covid-19-finansiering oopgevlek het. ’n Politikus van die opposisie, Jacob Ngarivhume, is ook in die tronk gegooi, omdat hy ’n vreedsame protesoptog wou reël.

Burgers wat hul gang gaan, word deur lede van die veiligheidsmagte met knuppels en stokke pap geslaan.

In ’n ander skrywe sê Buckle verpleegsters staak omdat hulle minder as $1 (Amerikaans) per dag verdien.

Cathy Buckle

Van hulle is geboei en in vangwaens gegooi. Stakers wat op die hospitaalterrein gebly het, moes skoert.

Die polisie verdien so min dat sommige neerval by die werk – van hongerte.

Verder is private pensioenfondse geplunder (ons kristalbal). Beleggings wat jy in Amerikaanse dollar gemaak het, is amper nutteloos. Vir elke $100 wat jy belê het, kry jy net $6 terug.

Vir hordes is hul waardevolle aftreegeld en spaargeld nutteloos. Weg. In April het die Wêreldvoedselprogram gesê ongeveer 7 miljoen Zimbabwiërs het humanitêre hulp (kos) nodig.

“God help Zimbabwe. It is little wonder the police have re-armed themselves with their home made spikes on our highways this week,” skryf Buckle. ’n Mens sidder.

Dag ná dag sien sy hoe mense vir kos veg. Hulle kan nie by die huis bly nie so honger is hulle. Sodra hulle vir eetgoed soek, word hulle aangeval deur die polisie.

Selfone bly die belangrikste metode om te kommunikeer omdat 90% van dié land sonder elektrisiteit sit. Hulle kan dus nie TV kyk of na die radio luister nie. Koerante is te duur.

Daar is tot vyf dae per week nie water nie en in sommige plekke is daar geen kraanwater nie. Die gemiddelde inkomste is Z$300 per maand – genoeg vir een pakkie toiletpapier en twee bottels Dettol-seep.

Daar is niks oor vir kos nie.

“How then, government of Zimbabwe, do we wash our hands or sneeze into tissues?” skryf Buckle.

Maar niemand antwoord nie.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.