Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Jaag als in hul maai – kommin en lekker!

jaagduiwel s.nw. Persoon wat uitermate vinnig jaag. Ook renjaer. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Lank, lank gelede was sekere Vrydagaande in die Kaap ’n groot gedoente. Dan het die Hell Drivers by die Goodwood-skouterrein gejaag dat die stof spat. Sommige van ons het sommer gepraat van “Stock Cars”.

Daar was toertjies met motorfietse, stampmotors, hitstjorre en selfs woon­waens. Ek het soms met my oom Bertie, ’n tweedehandsemotorverkoopsman in Voortrekkerweg, gaan kyk.

Oom Bertie het ’n rooi gesig gehad en ’n groot grys snor met die punte wat na bo draai. Sy gesig was kersiekleurig omdat hy lief was vir brandewyn en Coke.

Die rit na die skouterrein was deel van die pret.

Oom Bertie het ’n wit Citroën Pallas gehad, een van die groot slappes, met ’n hidropneumatiese suspensie wat stadig oplig voordat jy met hom kan ry.

Die kinders kon aan roomys, toffie-appels of spookasem smul. Sommige het sommer in hul kamerjasse opgedaag.

Die asbakkie was oorvol omdat hy en sy vrou, tannie Moira, albei aanhoudend Gunston Toasted Full Flavour gerook het.

As ons die kar parkeer, het hy en sy eers ’n knertsie brandewyn uit hul teefles gedrink.

Goed opgewarm het ons aanstaltes gemaak na die paviljoen. Jy kon die country-en-western-musiek hoor blêr. Miskien was dit Lance James se “Why Me Lord?” of Pussycat se “Mississippi”.

Eers worsrolletjies, met warm Weense worsies, bruingebraaide uie en mosterd. Op pad na die sitplekke sien jy mans met groot arms, bene, boeppense en cowboy-hoedens, sommige in safaripakke en met kamme in hul sokkies.

Dit was kommin, maar lekker. Hier het ek ’n vrou met haar kaal voet ’n sigaret sien doodtrap. Die vroue het gewoonlik groot haardosse gehad, soms het hulle stewels, stywe jeans en bloese vol skitterende rynstene aangehad.

Die kinders kon aan roomys, toffie-appels of spookasem smul. Sommige het sommer in hul kamerjasse opgedaag.

Langs die renbaan het jy met groot afwagting gaan sit terwyl die kommentator begin aankondig wie gaan deelneem.

Mense soos Johnny Clifton, Doep du Plessis en Kotie Malan was groot sterre. In ’n stadium was dit, naas rugby, die gewildste sportsoort in die land.

Die motors was opgedollie met allerlei dik wiele, blink buffers en staalpype. Daar was ’n mengsel van Anglias, Datsuns, Va­liants, Alfas, Fiats en die plaaslike Rangers.

Die reuk van petrol oral terwyl die enjins luier. Verskillende kompetisies is gehou. In een moes die motors agteruit jaag, al botsend teen mekaar.

Hulle het vinnig gejaag en die idee was om jou teenstander van die pad af te moker. Hard. Sodat die motor flenters is.

Woonwaens is ingespan in ’n ander resies, so vinnig is daar gery, die goed het omgerol en in stukke gebreek. Die skare in ’n beswyming.

Soms moes ’n renjaer oor vyf motors se dakke jaag, met ’n woonwa agteraan. Motorfietse is ingespan en soos Evel Knievel moes hulle deur ’n vlammesee bars en oor tien motors deur die lug sweef.

Die hoogtepunt was teen die einde. Om na die renbaan te loop en met verwondering aan die wrakke te streel. Soos aan die pels van ’n kat.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.