Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Kalfater met Oupa ondermyn patriargie

kalfater ww. Plesierig, jolig, vrolik, beweeglik wees, flankeer. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die afgelope Maandag het die oud-slangdanseres Glenda Kemp 70 geword. So samba die jare vorentoe sonder dat jy agterkom hoe vinnig die pad agter jou langer raak.

Uiteraard bly mense en gebeure uit ’n sekere era jou by, in hierdie geval die 1970’s: Jody Scheckter, onluste, Sprite-karavane, sensuur, braaivleis, sanksies, Dokter-Dokter, André Stander, Gerhard (Spiekeries) Viviers, Haas Das se nuuskas, kadette en vibracrete-mure.

Die TV het om 23:00 stil geword, met eers “Die Stem”, dan ’n somber skriflesing en gebed, en daarna die toetspatroon. Jy moes maar ouma se gehekelde kombers opvou en kooi toe.

Dan was daar Glenda Kemp. Sy het haar opwagting gemaak, opeens, soos ’n onvoorspelbare warrelwind op ’n grys agtermiddag in ’n stofstraat. ’n Jong vrou, wat nogal mooi Afrikaans praat, met ’n luislang genaamd Oupa, waarmee sy onbeskaamd kalfater en dans.

Glenda, soos sy deesdae lyk.

Die Freudiaanse verwysings en Bybelse simboliek bruisend met blatante sonde het die volk se fondamente omtrent geskud. In daardie stadium was dit nog volksdanse, sokkies, langarm, wisseldanse, safaripakke en Onse Mimi.

Die stadsvaders was ontstoke, huishoudings in oproer omdat pappa (en oupa!) te lank na haar foto in die koerant gestaar het. Nog nooit het so iets ons land getref nie. Rapport het haar as Nuusmaker van die Jaar benoem.

Die joernalis Chris du Plessis vertel hy het ’n dokumentêre program oor haar gemaak: “Sy het eiehandig die hele dorpsraad van Tulbagh tot op hul knieë gedwing. Hulle het gedink hulle kyk na ’n private vertoning in iemand se motorhuis, toe een van hul vroue snuf in die neus gekry het. Sy het die ander laat weet en so het hulle hul mans op heter daad betrap.

Waarvoor sy eintlik gestaan het, was dit: Hierdie lyf is myne, ek maak daarmee wat ek wil.

“Ten spyte van haar vrygeestige persona, was sy skaam en het haar hart aan net een man behoort, haar eie man,” sê hy.

Vir hierdie rubriekskrywer het sy vertel daar was drie Oupas oor die jare en die laaste Oupa is by ’n diereliefhebber in Londen agtergelos. Nadat sy in die 1980’s uit Londen weg is, het sy getrou (haar man het haar onlangs ontval), ’n dogter gehad, ’n Christen geword en ’n nuwe lewe as onderwyseres begin.

As Facebook-vriendin oor die jare het ek haar leer ken as welbelese, ’n mensch en iemand wat al bo groot terugslae in haar lewe moes uitstyg.

Glenda destyds. Foto: David CT Smith

Die belangrikste egter is dat sy op haar dag patriargie lekker ondermyn het. Haar feministiese invloed tydens ’n era van hoogheiligheid en konserwatisme in Suid-Afrika se geskiedenis moet nie onderskat word nie.

Deur baie is sy afgemaak as ’n rinkinkende Delila, flerrie met ’n slang uit die hel wat ander vroue se mans in die versoeking wou lei.

Waarvoor sy eintlik gestaan het, was dit: Hierdie lyf is myne, ek maak daarmee wat ek wil. As ek my eie sensualiteit wil geniet deur te dans, op my manier, doen ek dit. Ek het nie ’n man se toestemming om besluite namens my te neem nie.

Vat so, pappa!

Meer oor:  Herman Lategan  |  Glenda Kemp  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.