Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Kan ’n skaal verlies weeg?

omega s.nw. Voltrekking, einde of eindpunt, byvoorbeeld van ’n opeenvolging van gebeure. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die kothuis oorkant die straat was vir lank leeg en donker. Op ’n dag arriveer ’n groot dreunende vragmotor. Meubels word afgelaai, vensters word oopgeskuif, die sonlig stroom na binne.

Die nuwe buurvrou het lang slanke bene gehad, altyd keurig met haar swart hare wat los oor mooi skouers hang. Sy het soos 'n jeugdige Naomi Campbell gelyk. As sy haar rooi rok gedra het, het sy soos ’n vlam die straat afgewapper. Hy was ook jonk, ligbruin hare, gladde vel, soms met baardstoppels, die gesig van iemand wat nog nie juis deur die lewe geklap is nie.

Oor naweke was daar ’n gelag, musiek, mense wat gelukkig geklink het. Die eens verlate kothuis het weer gedy. In die aande was daar ’n warm flonkerskynsel deur die vensters.

In die swoelte van die dag het sy soms op die trappe buite gesit en haar blink gewaste hare stadig uitgekam, soos ’n meermin langs ’n poel blink water. Hul dae was teer, sag soos vere.

Ek het ’n hond eendag hoor blaf en by die venster uitgekyk. Daar staan die man toe met ’n klein, stewige swart mopshond, een met ’n gekrulde stert.

“Habibi, don’t bark,” het hy liefderyk vir sy hond met ’n Duitse aksent gesê. Hierdie hond is elke dag met ’n nuwe sakdoek om die nek vir uitstappies geneem.

Geel, groen, gestreeptes, verskeie doeke as kleurvolle modebykomstigheid vir ’n troeteldier met ’n opgefrommelde gesiggie. Op ’n dag is die paartjie saam weg vir die naweek, met die hond en sy Winston Churchill-gesig knus op die agtersitplek. Hy het net ’n sigaar gekort.

Voor hul vertrek het hy sy selfoonnommer gegee en mooi gevra of ek net ligweg ’n oog oor die plek kan hou.

Met Habibi.

Later op WhatsApp as ek deur my nommers afrol sien ek hy verander sy foto gereeld, altyd met Habibi op sy skoot, of sy skouers, dan langs sy gesig.

Die winter het gekom, reën het lank en hard oor die buurt uitgesak. Fabian het in die koue op sy eie met die hond uitgegaan al het die dag soos ’n röntgenfoto gelyk.

Ek het minder van haar begin sien. Eendag het iemand in die donkeroggend vir haar kom haal. Die hemelwater het geval. Toe sy in die motor klim, het die kar bly luier vir ’n paar minute.

Toe kom sy WhatsApp-boodskap. Het ek ’n skaal?

Ja. Kom haal.

By die voordeur het ek dit vir hom gegee. Sy gesig was donker misbanke.

Ek het gevra waarvoor die skaal is. Hy het my vertel dit was om sy bagasie te weeg omdat hy op pad terug is na München. Hy het skugter gelyk, meer gewond, en gesê die verhouding het nie uitgewerk soos beplan nie.

En Habibi? Ongelukkig moet hy agterbly. Duitsland is streng met diere.

Toe hy die skaal terugbring het hy my hand finaal geskud. Daarna het ek haar saans alleen by die venster sien sit, maar nooit weer vir Habibi nie.

Meer oor:  Woorde Wat Wip  |  Omega
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.