Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Karlientjie, lees dalk ’n ou artikeltjie

geborneer b.nw. Bekrompe, kleingeestig, kortsigtig, van beperkte verstand: Mense met 'n geborneerde blik. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

In die onlangse sage oor Afrikaans is Groot het die sangeres Karlien van Jaarsveld gesê “kunstenaars staan bankvas agter Steve Hofmeyr”.

Sulke blinde lojaliteit is pragtig. Daarvoor kry mamma se kind ’n goue sterretjie op haar voorkop.

Dan beweer sy: “Ek weet nie te veel van wat Steve al verkeerd gesê het nie, want ek lees nie sosiale media en koerante nie, maar sal altyd agter hom staan. Ek het al by sy huis gekuier en gesien sy bediendes is baie goed vir hom [ . . .].”

Van Jaarsveld lieg natuurlik as sy beweer sy lees nie sosiale media nie. Sy is immers die een wat voorheen getwiet het dat sy “so geïrriteerd (is) met Huisgenoot” dat ’n mens ’n “eier in haar h*l kan kook”. As jy op sosiale media kommentaar lewer, beteken dit jy moet sekerlik van die boodskappe lees, of ten minste sien wat jyself geskryf het.

Die feit dat sy op Twitter boodskappe die wêreld instuur, beteken sy is aktief op sosiale media. Hoekom die leuen?

Die intellektuele leemte en ruimte wat sy én haar broer Bobby laat, is ’n skrikwekkende metafisiese afgrond wat soos Kimberley se gat na benede stort.

Dit is duidelik sy lees nie koerante nie, dit glo ’n mens wel. ’n Mens verwag nie sy moet die plaaslike publikasies lees nie, al gee hulle haar oneindig baie verniet publisiteit. Dalk ’n ou artikeltjie in The New York Times? Miskien The Guardian?

Dit kan mos aanlyn gelees word. Perdalks is haar Engels beperk, maar daar is uitstekende resensies oor internasionale musiekgroepe. As ’n mens ’n plaaslike musikant is, sou jy tog wou notisie neem van wat oor die wêreld in jou spesifieke genre aangaan? Lyk nie so nie, klink ook nie so nie.

Onderhoude wat al per ongeluk met haar op TV gesien is, maak dit ooglopend haar verwysingsraamwerk is erg beperk. Die vrou leef in ’n tipe parogiale seepbel met horisonne wat strek tot swembaddens, strande, rugbyvelde, troues en banale musiekkonserte.

Om te noem Hofmeyr se bediendes is baie goed vir hom is absurd, dit lees soos iets wat uit die mond kom van ’n kranksinnige karakter in ’n roman wat in die styl van magiese realisme geskryf is. Boonop is dit so polities toondoof dit herinner aan die voorstedelike sottepraatjies van tant Stienie.

Die intellektuele leemte en ruimte wat sy én haar broer Bobby laat, is ’n skrikwekkende metafisiese afgrond wat soos Kimberley se gat na benede stort. Byvoorbeeld, in “Geskeurde jeans” sing sy: “Ek roep na jou / Roep omdat ek so veel van jou hou / Oor ’n naweek was dit nat soos nou.” Hè?

Die verskrikking is egter, wat maak van haar ’n bekende, een wie se doen en late enigiemand sal interesseer? Is dit ons obsessie met rampe?

Die antwoord staan in Eksodus, daar waar die plae die aarde tref: “Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof van die aarde geslaan, en daar het muskiete gekom op die mense en op die vee. Al die stof van die aarde het muskiete geword . . .

Bring die Doom!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.