Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Kersvers Afrikaans blý ’n ‘skryfyster’

kersvers b.nw. Vars, nuut, fris: ’n Ou Nederlandse vorm van kersvers is karsvers (-vars), waarin kars soveel beteken as “fris, opgewek, fiks”. So ’n kersvers Afrikaans, heet dit, kan tog onmoontlik standhou naas die Engelse wêreldtaal met sy uitgebreide literatuur (J.J. Smith). – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

J.J. Smith beweer hierbo ’n jong Afrikaans kan onmoontlik standhou naas die Engelse wêreldtaal met sy uitgebreide literatuur.

Min het hierdie persoon geweet hoe die rolprentbedryf, teater, boeke en musiekwêreld (universiteite is ’n ander onderwerp) steeds vooruit boer met neutvars wendings en woorde.

Die reuk van motballe hang, inteendeel, aan plaaslike Engels. “Dis asof daar ’n bloedarmoede in die Engelstalige letterkunde is,” het Antjie Krog onlangs gesê.

Dr. Willem Botha en sy span van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal doen goeie werk om jaarliks kompetisies met allerlei temas aan te bied. Die mees onlangse een was vir die treffendste Afrikaanse handelsnaam.

“Die eerste drie posisies in die kompetisie is ingeneem deur Respek en Eiers (’n ontbytrestaurant in Pretoria), Skryfyster (’n taaldiens in Malmesbury) en Bloos (die roséwyn van die Hermanuspietersfontein-Kelder),” sê Botha.

“Ander name wat baie stemme getrek het, is Toerboer (toeroperateurs in Pretoria), Nisboere (televisieprogram), Raak­smaak (speserye- en spysenieringsonderneming in Gezina), Gister (oudhedewinkel in Somerset-Wes), Knus Karoo Kombuis (restaurant in die Paarl), Tamatiestraat (onderneming vir spyseniering en kookklasse in Stellenbosch) en Skep (argiteksfirma in Stellenbosch).”

Meer as ’n duisend mense het aan die stemming deelgeneem en die plan is om dit volgende jaar weer te doen.

Die naaswenner, die taaldiens Skryfyster in Malmesbury, het sy naam te danke aan ’n skryffout van die eienaar, Anna-Bet Stemmet: “Toe ek tien jaar gelede my gmail-e-posadres opgestel het, het ek ’n tikfout begaan.

“Wat veronderstel was om ‘skryfster’ te wees, is toe ewe skielik ‘skryfyster’. Dit het egter lekker op die oor geval en toe ek mettertyd as vryskutskrywer begin werk, het ek daarop besluit as handelsmerk”.

In die WAT se nuusbrief vertel Stemmet sy voel dat die naam van haar onderneming in haar guns tel in die Swartland: “Die naam maak meestal dadelik ’n indruk omdat dit so speels is. Mý Afrikaans was nog altyd ’n wulpse, kwinksinnige rabbedoe met ’n goeie skoot dwarstrekker in die mengsel.”

Botha vertel die Hermanuspietersfontein-Kelder in Hermanus se wyne het Afrikaanse name. Benewens Bloos, ’n rosé, is daar ook onder meer Kaalvoet Meisie, ’n witwyn, en die volgende rooiwyne: Skoonma, Swartskaap, Kleinboet en Posmeester.

Anika de Goede, hoofbemarker van Hermanuspietersfontein, sê “die meeste gaste by die kelder is mal oor die name en hulle neem graag ’n stukkie Afrikaans saam huis toe. Die nie-Afrikaanssprekendes is eintlik die gaste wat makliker verlief raak op die wynname.

“Ons voer ook ons wyne uit met Afrikaanse etikette, so Afrikaans is beslis nie net ’n bemarkingsgeleentheid nie – dis met ons DNS vervleg. Ek is al amper ses jaar by Hermanuspietersfontein en kan nie aan een geleentheid dink wat ons ’n kliënt of geleentheid verloor het weens ons Afrikaanse name nie.”

J.J. Smith, jammer ou maat, maar jou voorspellings is nie ’n pyp dagga-as werd nie.

Meer oor:  J.J. Smith  |  Afrikaans  |  Woorde Wat Wip  |  Kersvers  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.