Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Kisklaar – gepaste afsluiting van dekade

kisklaar b.nw. Gestorwe, oorle, ontslape, saliger. – Tesourus: Afrikaanse SkryfGoed 5 (VivA).

Herman Lategan
Herman Lategan

Verlede jaar hierdie tyd het Kaylee Rough, ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi, ’n groot haaihoei op sosiale media veroorsaak. Sy het binne-in ’n doodskis in ’n lykswa by haar matriekafskeid opgedaag.

Twisgierige kritici, skuimend om die mond, het haar dramatiese aankoms as “onvanpas, siek en verregaande morbiet (sic)” afgemaak. Ander het gesê sy spot met die dood. “Wag tot die dood aan jou deur klop,” word die tiener gewaarsku. No pun intended, vermoed ’n mens.

Die goue draad deur al dié woedende en by tye uiters persoonlike en venynige kommentaar oor haar voorkoms, is die volgende: Die meerderheid se taalgebruik en spelling was maar beroerd.

Voorts mis hulle die simboliek. Met die einde van hierdie dekade dwing die jong Kaylee se matriekafskeidsdoodskis ’n mens weer tot stilstand. Nie net oor ons skooldae nie, maar oor die siklusse in ons lewe as volwassenes.

Vir baie matrikulante is hierdie jaar ook die einde van ’n 12 jaar lange tydperk. Wat Kaylee gedoen het, was om die oorgangs­rites van skoolverlaters op ’n treffende manier te versinnebeeld.

Om sin van alles te maak, was dit vir haar soos ’n begrafnis. Tipies tiener, want ook met oë wat van vreugde vonkel.

Uiteraard is daar ander droewighede wat kinders in hul skoolloopbaan ervaar: Die dood van ’n troeteldier, ouers wat skei, nog erger, ’n ouer wat sterf. (Hierdie word in die joernaal Death, Loss, and Grief in High School Students bespreek.)

Maar die fokus hier is op die eerste kopstamp met ’n ander tipe afskeid. Dit is die jong mens se kennismaking met ’n brose argetipiese rouproses, al is dit onbewustelik.

Vriendskappe wat oor jare opgebou is, versplinter. Mentors word agtergelaat.

Kompasnaalde spin in twee rigtings. Die een wys na ’n nuwe, opwindende begin. ’n Ander wys na ’n kinder- en tienerlewe wat jy nou finaal afsterf.

Mettertyd rol die jare verby. Jy maak ander vriende. Nuwe herinneringe word opgebou. Sommige boer vooruit. Ander is nie so gelukkig nie.

Jy verloor kontak met jou ou kys. Hy of sy woon nou in Londen, hoor jy. ’n Ander het glo uitgehaak en slaap nou in ’n parkie.

Die vriend met wie jy paddavisse daar in die koelte onder die bome gevang het, is dood in ’n motorongeluk. Dit lees jy een oggend op jou slimfoon terwyl jy in jou nuwe kantoor oor die berg uitkyk.

Vir ’n wyle ruik jy die eenvoud van vars modder. Jy hoor die koue stroom.

Kan jy dit glo? Die ou wat so swak gevaar het in alles behalwe houtwerk maak nou miljoene met ’n nuwe uitvinding.

Dalk sien jy dit op TV, daar waar jy op jou eie sit, want jy is geskei. Miskien by die werk afgelê.

As jy gelukkig is, raak jy ouer. Jy kyk terug.

Jy sien die dag toe jy kordaat by die hekke van die skool uitgeloop het. Dis soos gister – en jy wonder: Wat het van daardie kind geword?

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.