Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Lawaai oor vlag en lied, buite brand die land . . .

vaan s.nw. Vlag. Banier wat verenigings by optogte meevoer – Pharos: Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Hoofredakteurs: F.J. Labuschagne en L.C. Eksteen.

In die Tuin van Middelmatigheid vervuil met zombies, verhongerde diere en dorre plante, is almal weer in oproer. Hierdie keer gaan dit oor die ou landsvlag.

“Daardie vlag mag nie verban word nie, ons moet hom kan laat wild wapper in die wind,” sê Lawaaipadda, wat sommer namens 'n hele groep so dom soos 'n padpredikant praat.

“Al is dit die winde van verandering, ons oranje-blanje-blou moet trots fladder. Om dit te verbied, is 'n beperking op vryheid van spraak,” kwaak hy. Sy stembande is hees.

Vioolspinnekop val weg en speel “Die stem” op sy viola pomposa, 'n 18de-eeuse instrument met vyf snare, wat hy van sy oupagrootjie geërf het. Dadelik spring 'n trop Springbokke op aandag, poot teen die bors en jubel saam.

Hulle stink, want hulle is vol vrot swere wat in lekkende blare uitgebreek het. Trouens, al die flora en fauna is verarm, maer, olik.

Staatshospitale het in duie gestort, dit is al wat dié klomp kan bekostig. Van funksionele mediese dienste vir die horde behoeftiges is daar dus nie sprake nie. As jy siek word, vrek jy maar onder 'n verskrompelde bossie.

Die tuin is beendroog, daar is nie water nie. Daar is nie vooruit beplan vir reservoirs nie. Die Proteas wat eens die prag en praal van dié tuin was, is verlep.

Beurtkrag bestaan nie meer nie, nou gaan die krag sommer vir dae aaneen af, want die verkiesing is verby.

Daar was 'n portret van Jan van Riebeeck uit blomme gemaak, dié is deur rukwinde vernietig. Ook die padrão (klipkruis) wat Bartolomeu Dias opgerig het, het as gevolg van eindelose versengende hittegolwe verkrummel.

“Good riddance to bad rubbish,” sal baie sê.

Die gesprek gaan voort: “Ek haat daai walglappie van 'n vlag, om nie van ‘Die stem’ te praat nie,” lag Hiëna.

“Julle moet tog kan insien, dit versinnebeeld die wit, rassistiese vlag, 'n simbool van apartheid.”

Die oorgrote meerderheid van die plante en diere in die tuin stem tereg saam omdat dit tog vir enigiemand duidelik is dat dit 'n bitter nostalgie na 'n bose verlede herroep.

“Maar laat my toe om my 'n bietjie aan stuitige whataboutary oor te gee,” sis Spoegkobra, wat graag die rol van advocatus diaboli speel.

“Terwyl ons oor vlae, volksliedere, naamveranderings en grondhervorming kekkel en kraai, word die aandag baie slu van ander belangriker sake afgelei. Moet ook nie gebluf word deur die Zondo-kommissie nie, ook ? byvertoning waarvan daar dadels gaan kom.

“Dié is egter, met korrupsie, een van die vele essensies van ons probleme: Landbouweekblad skryf ’n kwart van Suid-Afrika leef onder die broodlyn.

“Kinders wat aan ondervoeding ly se breinfunksies as volwassenes word ingeperk. Dink daaroor, so tussendeur die lawaai. Waar is die nasionale woede hieroor?” Stilte.

Net toe begin Vioolspinnekop “Nkosi Sikelel’ iAfrika” speel, die nuwe landsvlag word gehys, en almal staan op en sing uit volle bors. Buite die tuinhekke is die lug swart van brandende motorbande.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Vaan  |  Vlag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.