Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Magie leeg, ogies toe, slaap in die vensterbank
Herman Lategan
Herman Lategan

slyt ww. Dunner, swakker of verflenterd raak of laat raak, of ander tekens van verwering of agteruitgang vertoon a.g.v. ouderdom, herhaalde wrywing of langdurige gebruik. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Die dag kraak soos antieke dakbalke in die hitte. Dit ruik na ou sweet.

Ek staan op Groentemarkplein en bespied die drama wat hom hier afspeel. Honderde ontheemdes wat uit hul lande op ons kontinent moes vlug vir ’n beter lewe, woon nou hier.

Hulle bly in die Metodistekerk, wat uit 1879 dateer. Dit lyk soos ’n fraai kerk in een van die klein dorpies in Engeland. Hier staan dit nou soos ’n argaïese oorblyfsel uit koloniale tye.

Binne is dit vol. Die mense is te na aan mekaar en baklei. Daar is nie genoeg ruimte tussen hulle nie. Faksies met verskillende behoeftes het ontstaan.

Laat verlede jaar het vier tieners die hitte hier ondraaglik gevind. Hulle het see toe gestap en by die Rocklands-strand in Seepunt lafenis gaan soek. Al vier het verdrink.

Die verdriet. Jy vlug oor grense heen en jou kind verdrink.

Vlugtelinge in die Metodistekerk. Foto: Brenton Geach

Vele mense het na buite die kerk uitgespoel, waar hulle onder plastieksakke klein tente gebou het. Baie ander woon op die trappe van die Burgerwaghuis, voltooi in 1755. Geen mens kies om so te woon nie.

Dit is die gevolge van ’n vasteland wat om welke redes in duie gestort het. Dié gebou is ook vervalle.

Dit staan amper vier jaar toe soos ’n tronk. Die verf peul af, die mure is vuil. Voorheen was daar ’n keurige versameling skilderye van ou Nederlandse en Vlaamse skilders.

Binne was die vloere blink en agter in die koel tuin ’n restaurant. Hulle het escargot, garnale, lamsboud en springbok-kasserol bedien.

Ook hierdie gebou met al sy geskiedenis lyk soos 'n hallusinasie uit ’n ander land. Dalk iets wat vir die stel van ’n rolprent gebou is. ’n Fliek oor distopie.

Op die boonste vloer het ek vroeër jare na soirees en uitvoerings van klassieke musiek hier kom luister. Sjampanje is bedien met smaakvolle peuselhappies.

’n Man sit op die trappe en kook iets in ’n groot pot. Hy lig die deksel. “Hoenderkerrie,” sê hy. Daar is meer bene as vleis. Dit prut, borrel in die hitte. Die dag bak. Eenkant staan ’n vrou en sing kliphard.

Op ’n vensterbank sit ’n seun kiertsregop en slaap.

Waarskynlik ingeoefen ná jare van vlug. Jy moet rus waar jy kan plek kry. Magie leeg, ogies toe. Siembamba, mamma se kindjie. Weerloos dut hy daar tussen die skares om hom.

Iemand gooi ’n emmer urine eenkant in ’n drein. Ek stap verby KFC. Draai regs verby Newspaper House.

Die stank van olierige hoender en rioolvuil vul die lug. Ek kan myself nie help nie, maar die reuk wil my laat braak.

Ek stap een blok verder, net een. By The Korner Restaurant and Bar kan jy Veuve Clicquot-sjampanje vir om en by R1 200 koop.

Die Not Guilty Burger het ’n ironiese naam. Daar is ’n bord wat sê: Happy Hour Daily. Regtig?

Meer oor:  Herman Lategan  |  Vlugtelinge  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.