Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Mnr. Valley se lewe had eenvoud en Zen-kalmte

sjoekran tussenwerpsel (Arabies) – Woordeboek van Afrikaans Vandag (WAV). Hoofredakteur: Jana Luther.

Die barbier mnr. Ismail Mohammed Cassiem Valley van Soutrivier is dood. Laas jaar al.

Toe hy in 2019, op 88, erg verswak, het ek ná 30 jaar ophou gaan. Maandagoggend verlang ek na hom en sy Alfreda Hairdressers, genoem na Alfredstraat, waar hy, sy broers en hul pa vir oor die 100 jaar geleë was.

Ek vra op die Facebook-blad Salt River Then and Now of iemand weet wat van hom geword het. Hy is saliger, sê hulle.

Daar was sewe broers wat oor die jare saam daar hare geknip het, een ná die ander het hulle afgesterwe. Nou is mnr. Valley ook weg.

Alfredstraat, Alfredstraat, jy en jou stokou skakelhuisies met die voordeure wawyd oop en die oumas en oupas op die voorstoepe, jul kleinkinders wat in die strate voetbal speel.

In die lug ruik jy op die Dover-koolstowe kerrie, smoorsnoek en tamatiebredie, die hele straat 'n paradys vol reuke en geure. Daar is komyn, koljander, neutmuskaat en witpeper.

Sit jy in een van hul outydse barbierstoele het die geure die vertrek binnegedryf. Daar was ook die reuke van Old Spice, lourierwater en babapoeier.

Op ’n krakerige, stokou radio op die agtergrond het Frank Sinatra of Louis Armstrong gereeld gesing. As daar Maleise koorkompetisies op pad was, is die bandmasjien uitgehaal en liedjies soos “Die klok slaan acht” en “Rosa” is kliphard gespeel.

Ismail Mohammed Cassiem Valley

Dan het die melancholiese klanke van hul ryk stemme, asook banjo’s en mandoliens, by die voordeur uit en by die strate afgedryf. Die name van dié kore was wonderlik: die Young Caballeros, Continentals en die Jolly Boys.

In die ou dae kon jy jou hare vir R2 laat knip; later, hier teen die einde, vir R30.

Vir dekades het hulle net skêre en lang, blink skeermeslemme gebruik, eers later het die elektriese skeerders gekom.

Mnr. Valley was stil wanneer hy jou hare geknip het. Daar was min tyd vir praat, want die proses verg intense konsentrasie.

Hy was van die geslag wat trots was op wat hulle gedoen het, en nes kleremakers en vele ander het hulle met totale oorgawe en perfeksie aan hul ambag gewerk.

Hy was nooit laat nie, het nooit verslaap nie; daar was ’n Zen-tipe, eenvoudige ritme aan sy arbeid en lewe. Tussen die broers het hulle met hul harde vlyt kinders wat dokters, onderwysers en akademici geword het.

Mnr. Valley was ’n statige man wat oor die jare voor my oë kleiner en lig geword het, sy oë later waterig en blink. My hare het minder geword. Toe al sy broers dood is en hy die laaste een was, het daar ’n stil smart oor sy skouers kom hang.

Groot mans wat as seuntjies na hom toe gekom het vir hul hare het gereeld kom inloer en dan is daar hartlik gegroet en na familie uitgevra.

Ons het geweet wat kom. Mnr. Valley, ons was almal baie lief vir jou. Trammakassie and sjoekran.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.