Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Motorritte wat lewe se sirkels voltooi

knormoer s.nw. (skertsend) Aansitter van 'n motor. Samestelling van knor en moer, n.a.v. die knorrende geluid wat die aansitter maak en omdat die rat op die aansitteras wat op 'n skroefdraad draai 'n moer is. – Etimologiewoordeboek van Afrikaans. (G.J. van Wyk et al.).

Daar is ritte in ’n motor wat jou altyd bybly. Die tog hoef nie lank te wees nie. Dit is die atmosfeer wat daarin heers of die herinneringe wat dit wek, wat vassteek.

Hoeveel grootmense sal onthou hoe hulle as kinders saam met hul ouers hul eerste troeteldier gaan haal het? Die nuwe hond op die agtersitplek, wat skaam-skaam haar stert waai.

Sy druk haar nat snoet teen jou jong vel. Haar snorbaarde kielie jou gesig.

’n Vriend van my in die Vrystaat vertel weer hoe hy ’n paar maande terug sy getroue ou dobermann-pinscher moes optel waar sy verlam deur die ouderdom voor sy voordeur gelê het. Vir Victoria was hy lief.

Hy het gewag solank hy kon, maar daardie oggend kon sy nie meer opstaan nie. Daarna het hy haar saggies op die agtersitplek van sy motor gesit en stadig van Springfontein na Colesberg gery.

Gedurende die uur se ry na die veearts het sy gedagtes teruggegaan na die dag toe hy haar as hondjie 12 jaar tevore ook in Colesberg gaan haal het. Die sirkel word onomwonde voltooi. Ongenooid kom streel die dood jou murgsagte hart.

Lank terug, toe die rand nog sterk was, het ek vir twee getroue vriende in Sydney gaan kuier. Hulle het uit Suid-Afrika geëmigreer.

Ná twee weke die onvermydelike: Die pad terug na die lughawe. In stilte, in die wete ons gaan nie saam oud word nie. Deur 11 000 km geskei.

Ek onthou weer duidelik, asof gister, toe ek op 21-jarige ouderdom vir die eerste keer in New York aangekom het. Die geel taxi waarin ek was, net soos in die rolprente, het my al die pad van die John F. Kennedy Internasionale Lughawe deur die strate van Manhattan gevat.

Daar was sneeu, breë boulevards en wolkekrabbers wat ek uit vele flieks herken het. Dat dit oor die 30 jaar gelede was, het die intensiteit van die ervaring glad nie laat vervaag nie. In ’n oogwink is ek weer op die drumpel van my lewe in ’n groot megalopolis.

Helaas, die ergste en langste 10 km ooit was tussen Groenpunt en Doves in Observatory. Ons moes my vriend se as gaan haal ’n paar dae ná sy onverwagte dood.

Die aansitter is aangeskakel. Daar was geen gesprek in die motor nie. By die begrafnisondernemer het ons in die warm son onder ’n boom gaan parkeer.

Die grys industriële geboue in dié buurt het ’n harteloosheid uitgestraal. Binne is die nodige papierwerk formeel, kil en in fluistertone afgehandel. ’n Beampte het die boksie as gaan haal.

Ek het die oorskot op pad huis toe op my skoot vasgehou. Waar hy gewoonlik uitgestrek op die agtersitplek as gevolg van sy lang bene gelê het, het hy daardie dag netjies in ’n vierkantige boksie voor by my gesit.

Woordeloos.

Meer oor:  Woorde Wat Wip  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.