Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: ’n Eensame saamwees in vergange losieshuise

karavansera s.nw. Figuurlik: Versamelplek van ’n bont menigte, roesemoes [verkort]. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Tot ongeveer die middel 1980’s was daar baie ou losieshuise in en om Kloofstraat in Kaapstad. Dit is voordat peperduur restaurante die hele buurt in ’n swelgparty vir lawwe klone verander het.

Daar was die Lenox, San Remo, Flamingo, Montgomery, Madeira House en Lomax, om maar net ’n paar te noem.

Hulle was groot ou geboue, kasarms, met baie kamers, hoë witgeverfde staalplafonne, antieke kroonkandelare, enorme badkamers, wenteltrappe wat soos ’n spiraal boontoe lei en eetkamers.

Dié eetsale het verskeie ronde en vierkantige tafels gehad, met wit linnetafeldoeke en skitterblink eetgerei. Die houtvloere het geglinster en geruik na Cobra-laventelpolitoer. As jy daaroor geloop het, het die planke hard gekraak.

Hierdie bôrdinghuise se eienaars was hoofsaaklik norse ou Britte, getroude paartjies en moeg vir hul huwelike, waarvan die Cockney-aksente deurgeslaan het.

Vir ontbyt is daar ’n etensklok geklingel sodat jy kon kom aansit vir ’n groot bord spek, eiers, boerewors, wit roosterbrood, marmelade, stroop, botter en moerkoffie. Dan het die hele plek sy vere reggeskud en het “die dag begin dans met ’n pouveer in sy hoed”.

Die kelnerinne was meestal bruin Afrikaanssprekende vroue wat uit die platteland ’n nuwe lewe in die Kaap kom soek het. Hulle het pienk uniforms gedra en in fluistertone gepraat.

Hierdie bôrdinghuise se eienaars was hoofsaaklik norse ou Britte, getroude paartjies en moeg vir hul huwelike, waarvan die Cockney-aksente deurgeslaan het. Dit was nie ongewoon om hulle soos Eliza Doolittle te hoor skree op mekaar nie.

Die dik mure is met geraamde afdrukke van Tretchikoff se The Dying Swan verfraai of die een van ’n seuntjie met groot vet trane wat van sy wange afloop. Dit was The Crying Boy deur Giovanni Bragolin, kitsch verby.

In hierdie wonings was daar die argetipes van verstotelinge. Wrakke wat op strande uitgespoel het. Ek weet, as jongman het ek in ’n paar gewoon.

Altyd ’n ouman met ’n hoes wat jy laatnag verder by die gang af kan hoor proes. Iemand wat iewers ’n pyp rook.

Daar is die oom met ’n afbeen en ’n liefde vir brandewyn. Hy sal jou nooit die storie van die ongeluk vertel nie. Hy snork hard en skree in sy slaap.

Ook is daar dalk ’n transgender-vrou wat saans die strate invaar. Altyd modieus aangetrek. Sy kom soms met ’n blou oog terug. Niemand vra vrae nie, solank die huur betaal word.

Dan is daar die eenkant-tipe vrou wat in elke een van hierdie losieshuise gewoon het. Sy luister saans laat na misdroewige liedjies op haar draadloos en praat met niemand nie.

Haar hart is deur ’n verloofde gebreek, sy dra te veel grimering en niemand kom laai haar ooit op nie. Bedags vat sy die bus werk toe. Elke aand kom sy presies 17:30 by die voordeur ingestap.

As sy getrek is, sal sy graag ’n reël uit ’n gedig van Elisabeth Eybers voordra: “Jy was die somer óm my, moeisaam dra my hart die oorryp vrug wat jy nie vra.”

So het almal tesame gewoon, tog in skrille eensaamheid.

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.