Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: ’n Gebrul soos leeus in Vrystaat se stilte

grommel ww. Dreun, rol, 'n rommelende geluid maak: ?'n Donderbui wat grommelend naderkom. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Snags in die donkerte en bedags onder die dorre wit son en helder stapelwolke hoor jy hulle van ver af: die diep gegrom van iets soos ’n trop brullende leeus.

In die duister klink dit amper apokalipties, veral as die blink oë skitterend en wiegend nader beweeg. Omdat dit so stil is, tril die aarde en alles daarom. Dit is groot lummels dié, dit hoor jy aan hul gehyg.

Die klank trek donderend oor die ruim vlaktes waar die veld vol verskrikte nagdiere skarrel. Wat ritsel daar in ’n bos?

Is dit ’n koorsdroom? Nee, hierdie reislustige bevind hom in ’n verlate plek op die N1-snelweg, 150 km suidwes van Bloemfontein.

Dit is die Engen-vulstasie en padkafee net voor middernag, duskant Springfontein, Vrystaat.

Motte fladder onder die skerp ligte wat die petrolpompe verhelder.

Alles voel kaal, die landskap daar buite diep en wyd. ’n Ruimtekapsule wat weggebreek het en in die diepruimte dryf.

Die onaardse gegrommel wat soos diere klink is blink vragmotors, met chroom en staal wat glimmer. Sommige met kolossale swart bande wat aan die dreigende voertuie in Mad Max-rolprente herinner.

Nighthawks deur Edward Hopper.

Hulle kom met wrede, selfversekerde wiele wat nie doekvoet oor die vlaktes seil nie. Jou bros bondel bene kan deur een teen die teer platgedruk word. Daar is tot 18 aan ’n voertuig, met name soos Dunlop, Michelin, Firestone en Goodyear. Een band kan tot R8 000 kos.

Elke trok kondig sy aankoms met die blaas van ’n kort en diep toet-geluid aan. Die fabrikate van die voertuie wissel van Volvo en Mercedes-Benz tot Hino en International. As jy met die bestuurder agter sy stuurwiel wil praat, moet jy skerp opkyk.

Dit is nie speelgoedmodelle vir kinders nie. Om ’n tenk vol te maak, kan maklik R9 000 kos. Hulle weeg tussen 40 en 48 ton. Die prys van ’n perd (die voorste gedeelte) en die sleepwa beloop miljoene.

Hulle vervoer onder meer motors, kos, herwinbare papier.

Wat maak dié plek so spesiaal?

Die Amerikaanse skilder Edward Hopper het atmosferiese werke geskep van eensame dog aanloklike plekke. Lig en donker skep ’n melankoliese luim. Visueel is dié vulstasie soos ’n kunswerk.

Dit is ’n kunsinstallasie wat vermeng en opgeklits word met die harde werklikheid waar die reuk van petrol met die skoon Vrystaatse lug meng. Die klanke van wiele wat vol lug geblaas word.

Belangriker nog: Hierdie motorhawe in die niet speel ’n betekenisvolle rol in ons land se padveiligheid. Dit het ’n groot parkeerarea, agter, waar moeë vragmotorbestuurders kan kom rus ná ’n vermoeiende rit.

Tot 150 lorries kan per nag of deur die dag daar kom rus. Elkeen het ’n bed in sy kajuit.

Daar is storte, skoon toiletgeriewe en aan die ander kant ’n deurnag-eetsalon. Hier vertel Rosina Montshi haar besigste tyd is tussen 17:00 en 07:00.

“As hulle hier aankom is hulle móég. Maar as ek vir hulle pap, wors, gravy en ’n lamstjoppie neersit, dan verhelder daai gesigte hoor!”

Dis net voor middernag. Buite rus die vragmotors in stomme stilte en die motte fladder teen die ligte.

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.