Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: ’n Instelling wat die horlosie terugdraai
Herman Lategan
Herman Lategan

innominaat b.nw. Wat nie benoem is, nie ’n naam het nie. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

’n Benjamin was ongeveer 16 toe hy 30 jaar terug onder in die straat begin koerante verkoop. Op die hoek van Hoofweg en Yorkstraat in Groenpunt.

In daardie dae het hy dik koerante verkoop. Deur die jare het hulle al hoe dunner geword.

Dit was ’n slim plan om juis dáár te staan, omdat vele voertuie deur die dag daar verbykom. Ma’s en pa’s wat hul kinders by die skool gaan op- en aflaai, sakelui wat soggens met ’n frons sit en wonder oor die dag voor hulle of toeriste op pad na die see.

Hy staan sewe dae ’n week daar. As die verkeerslig rooi is, kan daar maklik tot 15 motors vir die lig wag om groen te word.

Dan loop hy van motor tot motor en wys jou die voorblaaie van die koerante deur jou venster. Oor die jare heen het hy ’n instelling geword.

Hy kan ondeund wees. As jou venster oop is en die lig slaan oor na groen, sit hy sommer die koerant op jou paneelbord en in die wegry – met motoriste wat agter jou toet – skreeu hy jy kan hom môre betaal.

In die winter dra mense serpe, truie en reënjasse vir hom aan. As dit baie koud is en die hemelwater slaan neer, maak ’n sjef in die buurt vir hom vuurwarm fynproewersop. Nog ’n inwoner gee vet avokadopere uit dié se tuin vir hom.

Benjamin Asanda Foto: Philip de Vos

In die somer spog hy met ’n verskeidenheid modieuse sonbrille wat in die son skitter. Daar is ook die groot, groen bril sonder lense.

Hy praat gereeld oor sy ma en is baie lief vir haar. Die bekende deli Giovanni’s is net om die draai. Tracey Cohen, ’n gereelde klant, vertel Asanda het ná al die jare ’n sagte plek in haar hart. Sy koop vir hom sommer gereeld ’n ekstra hoender-mayonnaise-toebroodjie.

“Ek het gedink ek is sy enigste ‘meisie’,” sê sy, “maar toe kom ek agter hy sjarmeer ’n hele klomp van ons. Dis oukei, ons almal ken mekaar; niemand gee om nie.”

Asanda se droom is om die Joodse geloof aan te neem en hy het oor die jare heen ’n grondige kennis daarvan opgebou. Vrydae dra hy dus ’n jarmoelka. Dan wens hy almal “Sjabbat sjalom” toe.

Hy werk al so lank daar kinders wat volwassenes geword het, dink met nostalgie aan hom, omdat hy hulle aan hul kleintyd herinner. In die grendeltyd het inwoners van die groot woonstelgebou Thorniebrae in Yorkstraat vir hom gereeld geld na sy bankrekening oorgeplaas.

Twee weke gelede kyk ek na hom en dink: Ná al die jare ken ek nie eens sy van nie. Ek weet ook min van sy eie lewe.

Die Saterdag toe ek met my kamera na hom toe loop, is hy nie daar nie. Sy plek leeg. Die mense in die omtrek vertel hy is die vorige aand in sy slaap dood.

Sy van was Asanda, het hulle my vertel.

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.