Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: ’n Oomblik van mono no aware op die promenade

eendagsvlieg s.nw. (figuurlik). Iets met ’n baie kort bestaan, van heel korte duur. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

“Mono no aware” is die Japannese term vir efemera, die vlugtigheid van die lewe. Die kortstondige, vervlietende aard van alles.

Om van verganklikheid bewus te wees. Met dié woorde is daar twee emosies wat kan opwel. Dit kan ’n sagter geskakeerde hartseer wees met empatie as die hartklop.

Soms is dit ook ’n groter en swaarder weemoed wat jou eensklaps tref as jy van die verbygaande aard van alles aandagtig word. Die hele sissewinkel wat ons ken kom tot ’n einde.

Dink maar aan mense met kinders. Vandag sit jy nog babadoeke aan, môre waai jy op die lughawe (ook metafories) omdat jou kroos groot is en ’n nuwe lewe begin.

In Marcel Proust se In Search of Lost Time kyk die verteller oor sy skouer terug na sy kinderjare en na die afsterwe van tyd. Hy skryf oor onwillekeurige geheuebeelde. Daar is selfs ’n term daarvoor: madeleine de Proust.

Hy onthou hy het madeleine-koekies gereeld gesien, dit het niks vir hom beteken nie. Toe hy dit egter in tee indompel en proe, kom ’n hele leeftyd na hom toe terug.

Dié uitdrukking word gebruik om reuke, smake, klanke – wat jy eensklaps uit jou kinderjare of ander eras in jou lewe ophaal – te beskryf.

’n Geur wat my na my ouma se kombuis in Namakwaland terugverplaas is dié van karringmelkbeskuit. Ek is weer tien, drink moerkoffie, hoor haar stem, sien die netjiese rok.

Die reuk van die see en die geskree van seemeeue neem my na die strande van my jeug, toe velkanker in ’n mens se jong brein nog nie geregistreer het nie. Handevol klapperolie is oor blink lywe gesmeer.

Die roomysman se klokkie was die klankbaan van daardie era. Skulpe wat in jou oor sis.

Ek is oortuig as Suid-Afrikaners van die meeste kultuurgroepe wat deel van die diaspora is braaivleis ruik, hulle dadelik deur die eter vervoer word na die hart van dié land. So ’n reuk kan jou nogal sentimenteel maak van verlange.

’n Vuur wat knetter, roosterkoek op die kole, kinders wat lawaai, Oupa is gelukkig, al is hy aamborstig. Die tyd staan stil, maar eintlik uitoorlê hy vir jou.

Anderdag het ek my eie mono no aware-oomblik op Mouillepunt se promenade gehad. Ek het gaan loop.

Eers het ek ’n bejaarde man met sy hond sien sit. Hy was besig om langsaam die koerant te lees.

Baie mense bestudeer nog hul nuusblaaie van voor tot agter, maar laat ons nie onsself flous nie. Dit is slimfone wat nou hul lenteblink dae beleef.

Ek stap verder. Daar sien ek hulle. Twee leë telefoonhokkies. Net soos die jare, is daar roes aan hulle.

Hoe vreemd het hierdie twee argaïese oorblyfsels in 2021 gelyk. Hoeveel gesprekke is nie in daardie hokkies gehou nie?

Liefdesverklarings, stom stiltes, ’n menigte hande van alle ouderdomme en kleure om elke handstuk. Telefone wat lui. Nou is daar huilwinde en stilte.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.