Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: ’n Vrou met ’n skamper man eindig eensaam

skamper b.nw. (Ndl. schamper) Bitter, geringskattend, minagtend of spottend: – Woordeboek van die Afrikaanse Taal (A – SKOOI). Hoofredakteur: W.F. Botha.

Geweld teen vroue gebeur nie net daar buite nie, maar ook privaat in huishoudings agter mure. Dit is ’n stil aftakeling wat ’n vrou van binne verteer totdat daar niks meer van haar oorbly nie.

So ’n vrou was Maria. As jong vrou het sy van die Weskus na die Kaap getrek om ’n nuwe lewe te begin. Ná ’n dekade in dié stad het haar hart na haar heimat verlang.

Sy is terug, waar sy toe met ’n druiweboer getrou het. Hulle het langs die Olifantsrivier gewoon.

Hierdie man het hom bedags as ’n ware heer voorgedoen. Altyd netjies met sy hoed op, is hy elke weeksdag dorp toe in sy groen Chevrolet-bakkie waar hy inkopies gaan doen het. Daar was dit ’n gegroet, grappies maak en praatjies oor die oes.

Die glimlag, altyd die openbare skaterlag. Hy het kort ná die huwelik in ’n buffel verander.

Sodra sy die bakkie in die oprit hoor inry het, het Maria paniekerig geraak. As die voordeur oopgaan, kon jy die somber atmosfeer aanvoel.

Hy het haar ignoreer as hy ingekom het. Sy het probeer praat, maar hy het nie teruggeantwoord nie. Die kos moes teen 12:00 op die tafel wees.

Aanvanklik het sy gedink hy is maar net buierig. Dit sal verander. Toe een aand klap hy haar hard teen die grond.

Hy wou nie dat sy uitgaan nie. As sy wel iewers met hom kon gaan, moes sy ’n groot sonbril dra. Die dae was stil, maar saans as die son sak, het hy met sy glas brandewyn in sy hand haar afgekraak. Sy het gereeld slae gekry.

Op haar dag was sy ’n kleurvolle ekstrovert wat ’n hele kamer vol mense aan die lag kon kry. Sy het gedigte geskryf, mooi aangetrek en het baie vriende gehad. Nou was sy niks nie.

Eendag voel sy ’n knop in haar bors. Sy kry ’n mastektomie. Daarna wou hy nie hê sy moet meer in hul kamer slaap nie. Sy moes by die spaarkamer intrek. Hy slaap nie met ’n man nie, het hy haar toegesnou.

Geen vriende het ooit kom kuier nie. Hulle het ook nooit by die steak-eetplek in die naburige dorp gaan eet nie.

Die jare was meedoënloos lank, elke nag ’n koorsdroom. Mettertyd het die aantreklike en gesofistikeerde Maria verdor, vereensaam. Sy kon eenvoudig nie terugbaklei nie.

Haar selfvertroue so geknak, sy kon nie ’n uitweg beraam nie. Een aand het sy die prostese van haar bors op die bed neergegooi en met ’n houthanger begin slaan.

Haar seun het by haar gekuier. Hy het haar gesmeek om die man te los.

“Kyk na my,” het sy geskree. Sy het oor die groot litteken waar haar bors was gevryf en gesê: “Ek is ’n halwe vrou, want dit is wat ek elke nag moet hoor.”

My ma is op 53 aan kanker in die spaarkamer dood.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip  |  Geweld Teen Vroue  |  Skamper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.