Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: ’n Woord vir tye en mense wat al weg is

hartewee s.nw. Wêreldsmart, melankolie, verlange, heimwee, patos. – Virtuele Instituut vir Afrikaans (Tesourus: Afrikaanse SkryfGoed 5).

Soms ruk ’n gebou jou tot stilstand, soos ’n uitroepteken, jy kyk op, dit neem jou terug na tye en mense wat lankal weg is. So ’n gebou is Holyrood in Queen Victoriastraat in Kaapstad, net langs die Kompanjiestuin.

In ’n stadium het ’n paar kabinetsministers van die vorige regime woonstelle hier besit; dit is loopafstand van die parlement. Dit was by tye ook bekend as die (destydse) selfmoordblok, omdat dit hoog en maer is.

Jy kon vinnig en effektief na jou dood spring. Hierdie morbiede aktiwiteit het die afgelope dekades gestop.

Die aweregse digter Barend Toerien het ’n woonstel hier besit.

Van die fassinerendste mense in die Kaap was waarskynlik die naamlose Hollandse vrou wat in die Carlton, die hotel langs Holyrood, gebly het.

Sy was lank, statig en het min gepraat. Volgens die ouduitgewer Frederik de Jager, wat in 1989 vir ’n rukkie hier vertoef het, was sy smôrens met die eerste kraai van die haan opgedress en eerste by die voordeur uit.

Dit is dan wanneer Kapenaars haar in haar volle glorie kon besigtig.

Hierdie joernalis het haar eendag agtervolg, omdat sy so jolig en uitheems voorgekom het.

Die oudredakteur van Elle Decoration, Laureen Rossouw, onthou haar só: “Sy het elegante krimpelien-broekpakke gedra in bubble gum-kleure. Daar was ’n titsel te veel rouge op die wange en die lipstiffie was pienk.

“Haar hare was altyd netjies, met ’n ligte karteling.

“Sy het stadig geloop en het ’n aura van elegansie aan haar gehad.”

Hierdie joernalis het haar eendag agtervolg, omdat sy so jolig en uitheems voorgekom het. By haar uitrusting het sy altyd lang wit handskoene gedra en ’n bypassende handsakkie, dieselfde kleur as haar pak, soms helderpienk, of groen of pers.

Terwyl sy langsaam wandel stad se kant toe, het sy soos ’n adellike vir mense gewaai. Sy was inderdaad ’n Nederlander, glo met blou bloed. Plek-plek het sy gaan staan om met iemand te praat, dalk ’n blomme-verkoper.

Die kassiere by Woolworths en vele straatsmouse het haar almal geken.

Op ’n dag was sy weg. Die bestuurder van die hotel het my kortaf vertel hy het haar in ’n ouetehuis in Groenpunt gesit.

Dieselfde dag is ek vort om haar te gaan soek. Daar aangekom het ek vir die Hollandse vrou gevra, en ek is na haar

geneem.

Sy het in ’n hoek op ’n stoel gesit, half in ’n fetusposisie.

Haar oë was deurskynend soos water. Sy het geen grimering aangehad nie, die gesig leweloos.

Haar kop was halfkaal, die hare het reeds uitgeval, haar hande krom. Die rokkie waarin hulle haar aangetrek het, was ’n walglike styllose kledingstuk, iets wat sy nooit sou dra nie.

Ek het haar gegroet en sy het haar hoof na my toe opgelig, soos ’n blinde kat wat haar koppie eenkant toe draai om beter te kan hoor.

Maar daar was verder geen reaksie nie. Ek is daar weg met die wrang wete dat die Kaap nooit weer Hollands sal wees nie.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.