Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Nagvlinder kan nog uitbundig vlieë vang

feevlieëvanger s.nw. (voëlkunde). Kleinste en miskien mooiste van die S.A. vlieëvangers, met ’n lang stert soos ’n tinktinkie. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

Herman Lategan

Hierdie rubriekskrywer fokus dalk te gereeld op Seepunt. Dit is omdat dit soos 'n mikrokosmos van ons land is.

Dié voorstad het verskeie parallelle wêrelde wat langs mekaar sweef – eensame bejaardes, jubelende oues van dae, jong paartjies met of sonder kinders, middeljarige mense vol ennui of bruisend van lewenskrag, gay mans en vroue, verskillende rasse – en dan veral die haweloses, wat so ’n steen des aanstoots is vir veral ’n nuwe geslag ydeltuite wat van armoede ’n strafregtelike oortreding wil maak.

Vandat ek kan onthou van die vroeë 1970’s was daar dakloses wat in Seepunt en omtrekke vreedsaam hul gang gegaan het. Hulle was deel van die ryk weefsel van hierdie kosmopolitiese buurt.

Dit was nogal ’n storie toe ’n paar onlangs hul klere in die see by Drieankerbaai gewas en kordaat oor die relings op die promenade gehang het. Daar wapper ’n paar kleurryke hemde en broeke heerlik in ’n ligte wind met die son wat lekker skyn.

’n Wasgoedlyn langs die see, o wye en droewe land, met jou aweregse gekheid.

Dit was mooi, soos ’n skildery, met die blou see op die agtergrond.

Al die maskers is deur terugslae en swaarkry afgeruk.
Virginia Springett

Ook ’n treffende middelvinger aan diegene wat voorspelbaar aan die tjommel geraak het, omdat Covid-19 blykbaar geen invloed op húl geldsake gehad het nie.

“Weg!” het hulle geskreeu. “Ons wil nie armes sien nie.”

Tog is hierdie noodlydendes veel meer opreg en interessanter as sommige pasrykes. Nie soos op ’n neerhalende, humoristiese manier nie. Hulle het net meer eerlikheid, want al die maskers is deur terugslae en swaarkry afgeruk.

Onlangs loop ek vir Virginia Springett raak – waarskynlik een van die land se oudste nagvlinders. Sy vertel my sy is 74, maar ek weet sy is ouer, omdat sy nou al vir ’n paar jaar dieselfde ouderdom is.

Virginia het op die strand langs die Seepunt-swembad kooi gemaak waar sy op ’n kussing oorgetrek met nagemaakte luiperdvel gelê het. By haar was ’n paar ou Hello!-tydskrifte.

Sy moenie só slaap nie, het ek gedink.

In ’n stadium het sy in ’n ou, goue Mercedes-Benz vir R50 ’n nag geslaap.

Virginia praat met ’n hogere Engelse aksent. Sy was op haar dag welaf. Haar man is sonder testament dood. Sy is nou al vir dekades op die straathoeke.

Maandag het ek haar in ’n elegante skemertabberd sien staan. Ek het besef sy het gekrimp, want sy was ’n lang vrou. Nou is sy ’n klein feevlieëvanger, tenger, broos, ’n afvlerkvoëltjie wat nog na ’n verbyvlieënde vlieg of twee soek. Sy het haar hand voor haar mond gehou toe sy uitbundig lag. Jy het nog lag in jou, dink ek toe. Dit is goed só.

“Sake is sleg,” bieg sy. Covid-19 het dit moeiliker en gevaarliker gemaak. “Erger nog. Noudat ek 74 is wil min mense my hê.”

Toe sy haar hand wegvat sien ek sy het geen tande oor nie.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.